Die Hermanus-Kalfiefees, wat van 5-10 Augustus gehou word, het Saterdag sy nuwe program bekendgestel.
Die fees, wat vanjaar 26 jaar van topproduksies, musiek en plesier vier, gaan weer eens nie teleurstel nie. Tydens die programbekendstelling het Koos van der Merwe met sy produksie “Soos ‘n Lafenis” die hartsnare geroer.
Koos het met die vertoning sy nuwe digbundel, Die armkant van rykdom, bekendgestel. Groot afwagting heers nadat sy gedigte die afgelope maande deur meer as 500 000 mense op sosiale media gelees is. Saam met Koos op die verhoog was Ryno Grobbelaar van Rhino en Rasta-faam, ‘n kitaarspeler en sanger van formaat.
Die gehoor het tydens die produksie ‘n hele paar eerstes gehoor, maar omdat Koos die 35ste jaar vier sedert hy sy eerste album bekendgestel het, het hy ook een of twee nostalgiese nommers van dekades gelede gesing.
Van die produksies waarna Kalfiefeesgangers kan uitsien is:
• Het van Verlangekraal gaan verhoog toe: Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam verewig het, het dit gewaag om in opstand te kom teen ‘n rigiede skoolstelsel wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net Meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof, meneer Erlank, gestaan. Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak, wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes aangegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.
• Die Wasgoedlyn is die musiekprojek van Riku Lätti en Jackie Lätti – ‘n oop uitnodiging aan Afrikaanse musikante om hul eie liedjies met trots te speel, ongeag waar hulle vandaan kom of hoe hul pad begin het.
Wat begin het as twee mense wat ‘n simboliese lyn tussen hulle span waarop ander hul liedjies kan “ophang”, het oor tyd gegroei tot ‘n lewende netwerk kunstenaars, digters en storievertellers. Soos Riku self dit beskryf: “Ons is twee pale en daar span ‘n lyn tussen ons, en ons nooi mense om hul liedjies te kom hang dat almal dit kan hoor.” Die Wasgoedlyn het nie net ‘n verhoog geword nie – dit het ‘n beweging geword.
• Wat om te doen as die wêreld brand is ‘n splinternuwe kabaret wat spesiaal deur die digter en skrywer Bibi Slippers vir die legendariese Elzabé Zietsman geskep is.
As gevolg van mense se ingeboude negatiwiteit-vooroordeel (die Engelse praat van ‘n negativity bias), dink byna elke generasie mense hulle leef deur die eindtye. In vandag se dae voel dit of die hele wêreld saamsweer om ons te oortuig dat dit inderdaad die waarheid is; asof die wêreld letterlik en figuurlik aan die brand is: Katastrofiese natuurrampe as gevolg van klimaatsverandering, politieke verdeeldheid, geweld, chaos en selfs ‘n dreigende wêreld-oorlog is maar net ‘n paar kenmerke van die “nuwe normaal” wat aangebreek het nadat ‘n globale pandemie ons in onlangse heugenis skynbaar probeer uitroei het … Hoe bly ‘n mens by jou gesonde verstand wanneer dit voel of die wêreld eindig? Wie se raad moet jy volg, wie se wysheid moet jy najaag en watter stappe moet jy neem om te oorleef? Gaan dit regtig so sleg met die mensdom, of weet ons net nie waarheen om te gaan vir perspektief, hoop en inspirasie nie?
• Volg die Kalfiefees op Facebook om die nuutste program te sien.





