“Ons glo mense sal in die toekoms minder drink, maar beter drink. Sauvignon blanc – gemaak met spontane fermentasie, houtveroudering en alternatiewe style – dit is uitstekend geposisioneer.”
Dit is die woorde van Neil Ellis van Neil Ellis Wines in Helshoogte.
Volgens wynkenners is Suid-Afrikaanse sauvignon blanc een van die land se mees karaktervolle kultivars, bekend vir sy veelsydigheid en die manier waarop dit plek, styl en die wynmaker se hand weerspieël – van vars, kusgedrewe style tot komplekse wyne met uitstekende verouderingspotensiaal.
Op internasionale Sauvignon Blanc-dag, wat op 1 Mei gevier word, word die karaktereienskappe van die wyn ten volle geniet en vanjaar val dit saam met Werkersdag.
Daar is ook verskillende aktiwiteite oor die Wes-Kaap heen wat die wonderlike kultivar vier en met vanjaar se tema, “Tuis”, kan jy met ‘n koue glas sauvignon blanc na verskillende aktiwiteite uitsien – van deel wees van die geskiedenis van sauvignon blanc by die Nasdak-venue tot verskillende proegeleenthede.
Vir diegene wat dieper wil delf, is daar The Story of South African Sauvignon Blanc, ‘n koffietafelboek oor die mense, plekke en filosofieë agter die kultivar. Die boek vertel die stories van 60 produsente volgens streekoorsigte, wat dit terselfdertyd ‘n versamelstuk en ‘n praktiese gids maak. Dit is beskikbaar by www.sauvignonblanc.com en verkose wynplase.
“Ons sauvignon blanc-aromawiel sluit 72 geurprofiele in – een dag is eenvoudig te kort om die volle veelsydigheid daarvan te ervaar,” sê Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA en keldermeester by Steenberg Vineyards.
Sy moedig ook wynliefhebbers aan om die dag saam met hulle te vier. “Skink ‘n glas, laai die gratis aromawiel van ons webwerf af en ontdek waar jou gunstelingwyne hul plek binne die 72 geure vind. Maak #SauvBlancDay jou eie – van saamkuier op die stoep tot besoeke aan jou gunsteling wynplase – en ontdek die ongelooflike verskeidenheid wat ons produsente bied. Volg ons op sosiale media om meer uit te vind oor geleenthede, proeë en lekker kompetisies in Mei, en deel jou #SauvBlancDay-oomblikke.”
Besoek www.sauvignonblanc.com vir nog inligting.
Die Overberg spog met van die beste gehalte sauvignon blanc-wyne landswyd. Een so ‘n wyn is Bouchard Finlayson se 2025 Sauvignon Blanc. Die wyn is een van die wynkelders se gunsteling-wyne en mense van oor die land heen geniet ‘n glasie van die wyn. Volgens ‘n woordvoerder van Bouchard Finlayson speel die ligging van die plaas ‘n groot rol in die sukses en smaak van die wyn.
“Ons geografiese ligging, geleë binne vyf kilometer van die koel Atlantiese oseaan, bied die mees ideale temperatuur vir sauvignon blanc. Hierby dra die kleigrond wat eie is aan die Hemel-en-Aarde-vallei en die tropiese klimaat ook tot die unieke smaak van ons wyn by.”
Nog ‘n wynplaas in die Hemel-en-Aarde-vallei wie se sauvignon blanc ‘n gunsteling is, is dié van Creation Wines. Dié wyn spog met verskillende aromas, soos grenadella, pynappel en pomelo. Die wyn het ook al vier sterre in die Platter’s Guide behaal.
In die Elgin-vallei, met sy koeler klimaat, het dr. Paul Clüver sy appelboorde ingeruil vir wingerde en so ook een van die land se beste sauvignon blanc-wyne geproduseer. Sauvignon blanc is geskik om saam met hoender en vis te geniet, maar ná ‘n lang dag se werk is dit ook die ideale wyn wat jou van al jou sorge laat vergeet.



