Inwoners van Gansbaai was Sondagaand baie ingenome toe hulle hoor Gansbaai is as ‘n finalis vir Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie vir die Wes-Kaap aangewys. Ander dorpe waarteen Gansbaai in die Wes-Kaap moet meeding, is Riversdal en Montagu.
Selfs Overstrand se munisipale bestuurder het almal Maandag aangemoedig om vir Gansbaai te stem. “Gansbaai het jou stem nodig vir Dorp van die Jaar,” het dr. Dean O’ Neill gesê. “Nou hang alles af van ons stemme as ons Gansbaai graag nog ‘lekkerder’ wil maak.”
Almal was vasgenael voor die televisie toe beelde van hierdie pragtige dorp – of, soos die aanbieder tereg daarop gewys het, “pragtige vissersdorp” – verskyn het. Die klem is veral op die haaie en walvisse en al die see-safari’s wat die dorp aanbied, gelê. Verder is ook verwys na die pragtige strande, fynbos en die pikkewyn-rehabilitasieprogram.
Dit beteken dat Overberg-inwoners nou moet saamstaan om seker te maak dat Gansbaai na die volgende ronde deurdring. Stemlyne het reeds reeds Sondag geopen, maar jy kan tot Vrydag om 12:00 stem. Stoor Kwêla as ‘n kontak op jou foon. SMS in dié stemtydperk slegs die dorp van jou keuse se naam na 33157 teen R1,50 per SMS. Slegs 30 SMS’e per nommer word toegelaat. Gratis SMS’e / SMS-bondels werk ongelukkig nie.
Greyton was in 2021 die wenner van die Kwêla Dorp van die Jaar en almal is dit eens dat dit die dorp ‘n ekstra ekonomiese inspuiting gegee het.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys. Die dorp wen ‘n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ‘n 45-sekonde-advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
‘n Groot opskop sal in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal daar wees om dit te verfilm en dit sal later in die jaar uitgesaai word.
Lottoland skenk ook in sy eie hoedanighed ‘n geldprys van R1 miljoen vir die dorp om terug te ploeg en wat Lottoland sal oudit. Elke finalis-dorp sal vooraf gevra word om ‘n sakeplan in te dien oor wat hulle met die potensiële prysgeld beoog.
Ander provinsies se finaliste, wat Sondagaand aangewys is, is Balfour (Mpumalanga), Secunda (Mpumalanga), Bethal (Mpumalanga), Hopetown (Noord-Kaap), Loxton (Noord-Kaap) en De Aar (Noord-Kaap).





