Heleen Fourie oorhandig haar poniestert aan Ian Adonis. Foto: Mitzi Buys

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), ‘n organisasie sonder winsbejag, het ‘n Shavathon Saterdag 14 Maart as ‘n geldinsamelingsprojek by die Caledon Casino Hotel & Spa aangebied.

Hoewel ‘n kleur-pretloop nie dié jaar aangebied is nie, het baie mense gekom om hul hare met funky uitwasbare kleure te laat spuit. Twee vroue het selfs hul lang poniesterte afgesny en aan KANSA geskenk vir pruike.

Heleen Fourie sê: “Ons het mense na aan ons wat kanker het en selfs ook daaraan oorlede is. Ek het so vyf jaar gelede besluit om my hare spesifiek daarvoor te laat groei sodat ek dit, wanneer dit lank genoeg is, aan KANSA kan skenk. Ek het so paar maande gelede my hare afgesny en die poniestert gehou om aan KANSA te skenk sodat hulle dit kan gebruik om ‘n pruik daarvan te maak vir iemand wat hul hare weens kankerbehandeling verloor het. Ek het selfs my dogter Marli geïnspireer om haar hare te laat groei sodat sy dit, wanneer dit lank genoeg is, ook kan skenk. Marli se poniestert is tans 28 cm lank en sodra dit 30 cm bereik, gaan ons dit afsny.”

Nicole Philander van Myddleton het na die shavathon gekom om haar lang hare daar te laat afsny. “My besluit om dit te doen, kom al ‘n lang tyd aan, maar vandat kanker onlangs by my skoonpa gediagnoseer is, is dit so na aan my. Ek voel dalk kan ek iemand anders help. Ek dink meer mense moet dit doen – jou hare groei mos weer terug. Ek hoop om elke jaar my hare te kan skenk en sien daarna uit om dit volgende jaar weer te doen.”

Adri Liebenberg, Mariane Caithness, Yvonne Pretorius en Sue Clegg het ook hul hare laat spuit. Adri en Sue het spesiaal van Tesselaarsdal af gekom vir die shavaton.

Eerwaarde Patty Edwards en biskop Stafford Moses, wat ‘n geleentheid van die Overberg Trust bygewoon het, het na afloop van die byeenkoms ook hul hare laat spuit.

Ian Adonis van KANSA sê: “Ons waardeer almal se bydrae geweldig en is veral bly oor die twee poniesterte wat ons ontvang het. Die shavathon help ons om bewusmaking te skep – veral ook vir mense wat bereid is om hul poniesterte te skenk. Om pruike te maak, moet die poniestert minstens 30 cm lank wees.”

Adonis sê die oggend het redelik stil begin omdat baie mense ‘n kleur-pretloop verwag het waaraan hulle wou deelneem, maar dit het darem later redelik besig geraak.

“Volgende jaar gaan ons gewis weer ‘n kleurpretloop aanbied en mense kan dan hul hare ná die pretloop laat spuit,” sê Adonis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article