Hawston se Skrik vir Niks gaan in die Saldanha-Paastoernooi deelneem.

Die sewende Saldanha- Super 8-Paastoernooi is byna hier en spanne maak gereed vir ‘n opwindende paar dae se rugby.

Die Saldanha-rugbyklub sal van 2 tot 6 April die gasheer vir die besoekende spanne, wat kom meeding, wees.

Hawston Skrik vir Niks speel vanjaar in sy eerste Paastoernooi en volgens die kaptein, Branden Hunter, sien hulle baie uit daarna. “Dit is die eerste keer dat ons aan die gesogte toernooi, wat as die grootste Paastoernooi in Saldanha bekend staan, gaan deelneem. Dit is gewis iets vir die boeke,” het hy gesê.

Volgens hom is dit ‘n droom wat verwesenlik is – nie net vir die spelers nie, maar ook vir die ondersteuners. “Hierdie gebeurtenis is eintlik die talk of the town. Ek was verlede week daar vir die trekking en die hele Hawston-gemeenskap is saam met ons opgewonde en staan agter ons. Ons het die wedstryde vir die afgelope ses jaar net op televisie gevolg, maar nou is ons deel van die toernooi. Dit is iets om oor excited te voel.”

Wat die voorbereiding vir die toernooi betref, sê Hunter hulle fokus nou net op die ligawedstryde, maar soos hy dit stel, is dit ook voorbereiding vir die toernooi. “Ons voorkeur is om eerste in die Overberg te eindig en ons werk hard daaraan. Gelukkig berei die ligawedstryde ons ook vir die toernooi voor.”

Onder die agt spanne wat gaan deelneem, is onder andere Hawston, Hamiltons, Naka Bulls, SK Walmers, Multisure Evergreens, Gardens, Vredenburg en die gasheer, Saldanha.

By die bekendstelling van die Saldanha- Super 8-Paas-toernooi, wat Vrydag 20 Maart in Langebaan plaasgevind het, is dit bekend gemaak dat Hawston in die eerste wedstryd kragte met Gardens gaan meet. SK Walmers gaan kom teen Naka Bulls te staan terwyl Hamiltons WP en Vredenburg mekaar die stryd gaan aansê. Die gasheerspan Saldanha speel teen Evergreen.

Volgens kenners is die Naka Bulls gewis die gunsteling om die toernooi te wen. Nie net word hulle gesien as een van die suksesvolste rugbyklubs in Suid-Afrika nie, maar die span het ook vir drie jaar agtereenvolgens die Gold Cup gewen en ook verlede jaar die Carlton-liga losgespeel.

Diegene wat nie op die pawiljoen kan wees nie, kan die wedstryde regstreeks op SuperSport volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article