In suster Ziyanda Damse se interaktiewe praatjie het sy leerders gevra om haar te help om inligtingsplakkate omhoog te hou. Van links is Tyrick Molfert, Shavandrey Coert, Breytin Geduld, suster Ziyande Damse, Conway Marais, Caleb Marines en Oyintando Makaluza. Foto: Mitzi Buys

Leerders van Botrivier Primêr leer meer oor tuberkulose

In suster Ziyanda Damse se interaktiewe praatjie het sy leerders gevra om haar te help om inligtingsplakkate omhoog te hou. Van links is Tyrick Molfert, Shavandrey Coert, Breytin Geduld, suster Ziyande Damse, Conway Marais, Caleb Marines en Oyintando Makaluza. Foto: Mitzi Buys

Bewusmaking oor ‘n ernstige aangeleentheid kan ook op ‘n prettige manier gedoen word – en dit is presies hoe die tuberkulose- bewusmakingsdag die afgelope Woensdag (18 Maart) by Botrivier Primêr plaasgevind het.

Hoewel Wêreld-TB-dag jaarliks op 24 Maart plaasvind, is bewusmaking oor dié ernstige siekte reeds die voorafgaande week by Botrivier Primêr gedoen.

Die skoolhoof, Deidré Daniels, het aan Hermanus Times gesê: “Ons het ‘n voorgeskrewe program van die WKOD wat ons vir hierdie dag volg. Ons doen dit al jare hier by die skool en sien altyd daarna uit. Almal was betrokke. Ons het vir die grondslagfaseleerders ‘n inkleurkompetisie gehou, sowel as ‘n plakkaatkompetisie, en die onderwysers het hul klaskamers se deure versier.”

Dat die leerders tydens die voorafgaande bewusmaking van TB goed opgelet het, was duidelik toe suster Ziyanda Damse van die gesondheidsdepartement en die Botrivier-kliniek vrae oor TB gevra het. Al haar vrae oor wat TB is, die simptome en die behandeling daarvan, is korrek deur die leerders beantwoord. In Damse se interaktiewe aanbieding het sy ook inligtingsplakkate gebruik, wat met trots deur van die leerders omhoog gehou is.

Samonay Sarels van die Botrivier-biblioteek en haar span YeBoneers het verskeie ysbrekeritems aangebied, waaraan die leerders met oorgawe deelgeneem het. Leerders het ook gedigte voorgedra en ‘n dansopvoering gegee. Die tema van al die vermaaklikheidsitems het oor TB gehandel en dit was ‘n oorspronklike en prettige manier om die erns van TB by die leerders tuis te bring en vir hulle om die inligting te onthou.

Sybil Lee, die hoof van die Theewaterskloof-biblioteekdienste en Frederick Mitchell van WKOD, het ook die verrigtinge bygewoon.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article