Atlantics het bewys waarom hy in die Grootuitdaagreeks hoort.
Atlantics het bewys waarom hy in die Grootuitdaagreeks hoort.

Die afgelope naweek se Grootuitdaag-rugbywedstryde het geen verrassings opgelewer nie, maar almal is dit eens ná Saterdag se wedstryd hoort Atlantics in die Grootuitdaag-liga.

Die span van Hermanus het Saterdag by die Mount Pleasant-sportterrein gewys waarom hy verlede jaar onoorwonne was in die Streekuitdaag-reeks en het die Bredasdorp Rangers 41-30 geklop. Met Atlantics se giftige agterlyn en goeie balhantering is die drieë ingeryg en dié span gaan nog bekende klubs soos Safcol en Hawston die skrik op die lyf jaag.

Caledon, wat Saterdag sy eerste wedstryd gespeel het, het nie ‘n wegholoorwinning oor Genadendal behaal nie, maar 21-17 gewen. Genadendal het met durf gespeel en die Canola Boys moes hard werk om die wedstryd te wen. Caledon sal aan sy dissipline en balvaardigheid moet werk om teen die topspanne te wen.

Almal het aan die begin van die seisoen gewonder wat die Grabouw-rugbyklub in die mou voer. Met ‘n nuwe afrigter, Herchelle van Aswegen, en nuwe spelers het ondersteuners meer van die span verwag.

Saterdag se wedstryd teen Botrivier was weer eens ‘n teleurstelling vir Grabouw.

Grabouw, wat nou twee naweke ná mekaar die onderspit gedelf het, moet ná sy nederlaag van 48-17 gaan selfondersoek instel en bepaal wat hy moet doen om uit die penarie te kom. Botla Fire het van die begin van die wedstryd gewys waarom hy die verdedigende Overberg-kampioen is. Die span het nie net voorlangs heeltemal oorheers nie, maar met goeie balvaardigheid en agterlynbewegings die een drie ná die ander aangeteken. Die pas en geesdrif waarmee die span van Botrivier gespeel het, was net een te veel vir die span van Grabouw en Grabouw kon letterlik nie byhou nie. Van Aswegen sal moet hard werk aan sy manne se fiksheid en ook met nuwe planne vorendag kom as Grabouw sy merk in die liga wil maak.

Dit was ook nie ‘n verrassing toe Hawston se Skrik vir Niks die span van Villiersdorp oortuigend 32-15 geklop het nie. Hawston, die Overberg Challenge-wenners, is ná twee jaar se “droogte” terug en gaan sy ondersteuners nie teleurstel nie. Die voorspelers, wat met dryfmaal-bewegings

nie net telkemale oor die voordeellyn beweeg het nie, maar ook ‘n goeie grondslag vir sy agterspelers gelê het, het na punte gelei. Die kaptein van Skrik vir Niks, Branden Hunter, kan trots wees op sy manne se dissipline en samespel.

Stanford Universals het Kleinmond maklik 48-21 verslaan en Safcol het die Sea Hawks van Arniston 47-22 geklop. Safcol was voorlangs te sterk vir die Sea Hawks, het elke moontlike geleentheid benut en dit in punte omgeskakel. Sea Hawks, wat nie by die tempo van Safcol kon byhou nie, sal moet hard werk om nog nederlae te vermy.

• Saterdag se wedstryde is soos volg: Atlantics teen Grabouw, Safcol teen Villiersdorp, Hawston teen Genadendal, Caledon teen Kleinmond, Stanford teen Bredasdorp en Botrivier teen Sea Hawks.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article