Die wedstryd tussen Hawston en Universals is seker Saterdag se wedstryd van die week. Albei spanne se spelpeil is goed op dreef.

Die naweek gaan die Overberg se rugbyliefhebbers weer die pawiljoene vol sit om hul gunstelingspanne aan te moedig. Soos een sportgeesdriftige tereg wys: “Ons rugby is gesond, al speel jy vir die gemeenskapskild, jy kan trots wees, want hier uit die Overberg het al baie bekendes hul rugbyloopbaan begin.”

Seker die wedstryd wat op almal se lippe is, is Hawston Skrik vir Niks wat teen Universals van Stanford gaan speel. Die twee spanne is ook nommer twee en drie op die punteleer met Hawston wat net-net voor die span van Stanford is. Volgens ‘n rugbykenner gaan die fikste span die naweek wen. “Albei spanne het gewys dat hul graag onder die topvier-spanne wil eindig. Hul spelpatroon verbeter week na week en ons kan maar ‘n taai stryd verwag,” volgens hom. Stanford gaan dalk tuisveldvoordeel hê, maar met Hawston se ondersteuners wat nie omgee om te reis nie, gaan dit dalk vir hulle voel of hulle op Hawston se veld speel.

Die wedstryd tussen Safcol en Bredasdorp by die Glaskasteel, behoort ook geen verrassings op te lewer nie. Safcol wat vierde op die punteleer is, gaan definitief sy merk maak. Daar is ook geen verrassings wat wag vir Kleinmond en Botrivier nie. Met Botla Fire wat met nuwe vuur speel en boaan die punteleer is, is hulle die gunstelinge om die wedstryd te wen.

Atlantics, wat die jaar die eerste keer in die Grootuitdaagreeks speel, en vriend en vyand verras met hul spel en entoesiasme waarmee hulle elke wedstryd aandurf, huisves Genadendal. Kenners is ook van mening dat Atlantics hier as wenners uit die stryd gaan tree.

Verder gaan Sea Hawkes die span van Villiersdorp aanvat terwyl die sukkelende span van Grabouw teen Caledon gaan kragte meet. Caledon sukkel ook net so die jaar en volgens die bestuur vra hulle hul ondersteuners om agter hulle te bly staan.

In die Overberg-gemeenskapskild-kompetisie gaan Oak Valley teen Black Birds speel, Tesselaarsdal teen Young Flowers, Mortru teen Rangers, Uitsig teen die Zebras en Young Tigers teen United Stars.

In die Streekuitdaag-kompetisie speel Struisbaai teen Riviersonderend, Greyton teen Standards, Klipdale teen Napier, Elim teen Black Leaves, Universals teen Spring Roses, Evergreens teen Elandskloof, Barabrians teen Golden Eagles en die Young Eagles teen die Cheetahs.

* Saterdag speel die trots Hermanus en die Overberg, die Walker Babes teen Roses United. Die vrouespan van Hermanus, wat die een na die ander wedstryd wen en met ‘n Springbok en verskeie Boland-spelers in sy geledere speel, is definitief ‘n span om te aanskou. Die wedstryd skop 12:15 Saterdag op Atlantics-rugbyveld af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article