Age-in-Action is ‘n nieregeringsorganisasie (NGO) wat hom vir die welstand van senior burgers beywer. Hulle verteenwoordig meer as 2,7 miljoen ouer mense en meer as 800 NGO’s is lede van die organisasie, wat op hul beurt weer dienste aan meer as 150 000 ouer mense lewer. Age-in-Action inisieer en bevorder programme wat die status en sekuriteit van ouer mense verseker, wat ook kwesbare ouer mense insluit.
Gereelde oefening is belangrik vir senior burgers en as dit as ‘n sportdag vol pret aangebied word, des te beter.
Age-in-Action het Donderdag 5 Maart ‘n sportdag in Grabouw aangebied waaraan verskeie diensorganisasies vir senior burgers deelgeneem het.
Die Disa-dienssentrum van Myddleton het ook aan die sportdag deelgeneem. Die voorsitter, Yvonne Geduld, sê: “Ons lede het aan verskeie items soos bal-oor-die-kop, kussing-tussen-die-bene, eier-en-lepel en ook die 100 m deelgeneem. In die 100 m het Jane Oliver almal kafgedraf en tweede plekke in die ander items behaal. Die lede het dit terdeë geniet, maar met die terugry huis toe was almal tjoepstil in die voertuig – hulle was te moeg om nog te praat!”





