Sy het die stadsliggies verruil vir ‘n rustiger lewe in die Overstrand …

Nianell, een van Suid-Afrika se gewildste sangers, wat die hartsnare geroer het met “Who painted the moon black” en “Shine”, woon nou in Franskraal. Verlede jaar het sy op Facebook aangekondig dat sy en Kevin halsoorkop op Franskraal verlief geraak het en glo hulle gaan hul “forever home” hier vind.

Haar woorde was skaars koud toe hulle sak en pak na Franskraal verhuis het. Nianell het al verskeie optredes in die Overstrand gehad, maar dit is haar en André Huysamen se nuwe liedjie, wat Vrydag op alle stromingsdienste beskikbaar is, wat die verbeelding van haar aanhangers aangryp. Dié twee Suid-Afrikaanse topsangers het saam ‘n roerende nuwe weergawe van “Run” deur Snow Patrol die lig laat sien.

Luister ‘n mens na die liedjie, is dit die mengsel van pop- en klassiek wat jou weer en weer na “Run” sal wil laat luister. Soos een kunstenaar tereg opmerk: “Hul interpretasie vermeng klas-

sieke met hedendaagse pop en die resultaat is ‘n kragtige en diep roerende luistergenot…”

Nianell som dit so op: “André is ‘n seldsame siel. Van ons eerste ontmoeting tot ons onlangse duet het sy sensitiwiteit en toewyding my verstom. Dit is ‘n vreugde om saam met iemand te werk wat my toewyding – om die wêreld te inspireer – deel. André is inge-

stel op mense en bring nie net ‘n positiewe energie na enige projek toe nie, maar sal ‘n mens ook motiveer as jy dit nodig het – hy is nie net ‘n kollega nie, maar ‘n ware lig rondom ons,” het Nianell oor André gesê.

Volgens André was hierdie opname en om saam met Nianell op te tree ‘n droom wat waar geword het. “Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger en bewonderaar van haar. Haar stem het die vermoë om jou op ‘n geestelike reis te neem. Haar liefde, kalmte en vriendelikheid maak dit ‘n vreugde om saam met haar te werk… sy doen alles so moeiteloos. Ek is so dankbaar ek kon hierdie projek saam met haar aanpak en hoop dat hierdie liedjie ook iets vir die luisteraars beteken soos wat dit vir my beteken het,” het André gesê.

André Huysamen en Nianell se liedie “Run” is nou op alle stromingsdienste beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article