‘Vuurtoringvroue’ stap ‘n ekstra myl om geld vir liefdadigheid in te samel

Meraai du Toit van Suiderstrand, die raakvatter wat heerlike eetgoed opgedis het.

Die immergroen en gewilde stapgroep die Vuurtoring-na-vuurtoringvroue – in Engels bekend as die Lighthouse2Lightouse Ladies – het pas ‘n reusemylpaal bereik toe hulle hul uitmergelende voetslaanroete van Afrika se mees suidelike punt tot by die Danger Point-vuurtoring op Gansbaai die 21ste jaar aangedurf het.

Hulle stap die roete van byna 100 kilometer in vier skofte en oornag by Die Damme. Die staptog is nie speletjies nie en jy moet fiks wees, verduidelik Ronel van Zyl, wat jare lank die voorsitter was. Die groep is in Hermanus gesetel en die huidige voorsitters is Tamara Stofberg en Jennie Vorster. Ronel is ‘n afgetrede arbeidsterapeut en verduidelik elke vrou moes R3 000 vir die roete betaal.

“Ons is ‘n organisasie sonder winsoogmerk en versamel geld vir liefdadigheid soos dieresorg, die Hermanus Senior Sentrum en Silwerjare in. Die hospies is ook ‘n gereelde begunstigde – een van meer as 30 instansies wat hierdie groep uithalervroue jaarliks finansieel bystaan. Sedert die aanvang van hul epiese ekspedisies 21 jaar gelede het hulle reeds ‘n verstommende R9,6 miljoen ingesamel,” verklap Ronel met ‘n sweempie trots.

“Elke vrou wat jy hier sien, is ‘n ligstraal en insamelaar. Elkeen het haar eie netwerk en samel ook op haar eie geld in. Ons lê tot 18 kilometer per dag af en dra ons eie water, koeldrank en kougoed saam. Die terrein is die grootste uitdaging, want ons roete strek oor sandduine, fynbos en rotsagtige strande. Maar ons doen dit blymoedig en nie net vir onssself nie, maar vir hulpbehoewendes,” verduidelik sy. Ronel het die plaaslike polisie, wat toesien dat hul veiligheid deurentyd gewaarborg is, geprys.

‘n Mondigwording is ‘n groot geleentheid en met hul aankoms op Suiderstrand het Alphia Schutte, ‘n bekende Suidpunter, oudergewoonte weer eens haar huis in Vleilaan 11 oopgegooi vir die stappers en smaaklike versnaperings en drinkgoed voorgesit, wat met sorg deur plaaslike vroue soos Meraai du Toit, dr. Marjo Meyer en Marion Verbrugge, ‘n wêreldbekende musikus, voorberei is. Laasgenoemde twee vroue is van Nederland en het ook soos vele ander op Suiderstrand verlief geraak.

Danie en Aphiga Schutte saam met Betsie de Witt, Jennie Vorster, Hanlie Vorster en Tamara Stofberg.

Alphia vertel dat haar pad die eerste keer met die vasbyters gekruis het toe hulle ‘n jaar of wat gelede teen die reën in haar waenhuis kom skuiling soek het.

“My hart het uitgegaan na hulle en sedertdien staan ons huis oop vir hulle as hulle op die Suidpunt wegspring.” (Alphia is getroud met Danie Schutte, ‘n voormalige minister van Binnelandse Sake.)

Die groep is met hul aankoms deur Jeremy Mann, vader van die weeklikse Suidpunt-jakkalsdraf (“Park Run”) op vergange stories en staaltjies vergas. Jeremy en sy vrou, Marlene, se verbintenis met die Suidpunt strek terug oor 26 jaar en niemand kon die toehoorders meer vertel oor die besienswaardighede wat die dapper stappers op hul roete sal teëkom nie.

Met die ondersteuning van staatmakers soos Alphia Schutte en haar span is die Voorslag Vuurtoring-vroue se toekoms vir die volgende 21 jaar gewaarborg.

Die dinamiese Ronel van Zyl dryfveer agter die stptog en jare lange voorsitter van die Vuurtoring-vroue.
Die vroue het opgewonde hul stoaptog by die mees Suidelike punt van Afrika begin/

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article