Vyf toonaangewende rolspelers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op 5 Februarie by die jaarlikse Wynoes-herdenkingsgeleentheid vereer, en een van hulle is van die Overberg.
Denzel Swarts, die verkoops- en handelsmerkbestuurder van Zoetendal-wingerde in Elim, het is vir sy transformerende leierskap om inklusiwiteit ten spyte van talle uitdagings te bevorder, vereer. Hy het die toekenning in die afdeling vir die Bevordering van Inklusiwiteit ontvang.
Swarts se loopbaan het by Simonsig begin en daar het hy vroeg-vroeg al gewys sy werk is nie net ‘n dagtaak nie, maar ‘n passie en hy is vinnig tot senior bestuursvlak bevorder. Hy het deur deur rasse- en sosio-ekonomiese grense gebreek en die weg gebaan vir ander om in sy voetspore te volg. Hy het daarna sy passie om transformasie in die wynbedryf uitgeleef en was lid van die Stellenbosch-wynroete-transformasietaakspan, ondervoorsitter en later waarnemende voorsitter van die Universiteit van Kaapstad se nagraadse handelsfakulteit en is tans die direkteur van die Pinotage-akademie vir jeugontwikkeling asook direkteur van die professionele liggaam van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was sekerlik toe hy die eerste mens uit Afrika was om die gesogte Golden Vines® Wine Scholar Guild-beurs in 2022 te ontvang, wat hy op onselfsugtige wyse prysgegee het vir iemand anders in nood.
“Swarts is iemand van bewonderenswaardige statuur en getrou aan sy herkoms, terwyl hy voortdurend streef na persoonlike groei en gemeenskapsbevordering. Dit maak van hom ‘n verdienstelike ontvanger van hierdie eerbetoon,” het die komitee tereg gesê.
Die plaaslike minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, het oor die geleentheid gesê: “Die Wynoesherdenkingsgeleentheid vier die krag en erfenis van die wêreldklas-wynbedryf van die Wes-Kaap. Landbou bly steeds ‘n sleuteldryfkrag agter ekonomiese groei en werkskepping in die provinsie en vandag verleen ons erkenning aan die uitmuntendheid, vernuwing en inklusiwiteit wat hierdie sektor internasionaal mededingend maak. Ek bring veral hulde aan die landbouwerkers wie se toewyding die bedryf onderhou en landelike gemeenskappe versterk.”





