Gerhard Afrika van Wyk van die Caledon-biblioteek saam met Nadine en Nayrique Arendse by die biblioteek se inligtingstalletjie. Foto: Mitzi Buys

‘n Atmosfeer van opgewondenheid het geheers toe die gr. R-leerders Woensdag 14 Januarie by Swartberg Primêr vir hul eerste skooldag aangemeld het.

Die 128 gr. R-leerders het netjies uitgevat en baie dapper in hul nuwe skooluniforms saam met hul ouers en ander nuwe leerders in die skoolsaal gewag om in hul onderskeie klasse ingedeel te word. Hierdie bravade was egter vir ‘n paar van die nuwelinge van korte duur. ‘n Onderwyser by Swartberg sê hier en daar moes trane afgevee en getroos word toe die nuwe leerders sonder hul ouers in die klaskamers was. Die leerders met wie Hermanus Times voor die saalbyeenkoms gesels het, het almal ywerig hul koppe geknik en beaam dat hulle na dié nuwe avontuur uitsien.

Personeel van die Caledon-biblioteek was vanjaar weer teenwoordig om bemarking te doen. Gerhard Afrika van Wyk sê: “Ons wil graag die belang-rikheid van lees aan ouers oordra. Ons moedig hulle aan dat die kinders lid word van die plaaslike biblioteek en dat hulle vir hul kinders boeke uitneem en voorlees, want lees verbreed hul kennis. Elkeen wat vandag ingeteken het, het ‘n kinderboekie as geskenk gekry om sommer dadelik die liefde vir lees by hulle aan te wakker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article