NAMPO-Kaap wat in Bredasdorp gehou is, het die jaar ‘n rekordgetal bywoning opgelewer.

Dit is ‘n skou wat van krag tot krag gaan. Min het die organiseerders geweet toe hulle in 2018 besluit het om Nampo na Bredasdorp te bring, dat hulle elke jaar ‘n rekordgetal besoekers gaan hê.

Sedert Nampo Kaap se ontstaan in 2018 het meer en meer mense die landbouskou kom besoek en dié jaar het die sesde Nampo Kaap-ekspo op ‘n hoogtepunt afgesluit en ‘n rekordgetal besoekers – ‘n stewige 49 326 – van 10 tot 13 September by Bredasdorp-park gelok.

“In 2018, toe 16 000 mense die eerste ekspo bygewoon het, het Nampo Kaap ‘n bestendige groei getoon. Vanjaar se bywoning het die 45 894 van verlede jaar ver oortref. Uitstallers het hul tevredenheid uitgespreek oor die gehalte van gesprekke en terugvoer gegee dat daar sterk sake gedurende die vier dae van die skou gedoen is,” het die organiseerders gesê.

Volgens een van die uitstallers is hy baie tevrede met die ekspo. “Gesprekke het vinnig in transaksies verander – dit is presies die waarde wat Nampo Kaap bied,” het hy gesê en beklemtoon dat die ekspo ‘n ontmoetingsplek en ‘n mark vir landbou in die streek is. Die adjunkpresident, Paul Mashatile, het Vrydag 12 September ‘n draai gemaak, waar hy, dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van landbou) en Jeremia Mathebula (voorsitter van Graan SA se landbou-ontwikkelingsafdeling, Phahama Grain Phakama (PGP), ‘n inligtingsessie bygewoon het. Dit is gevolg deur ‘n interaktiewe sessie met rolspelers uit die sektor, insluitend Graan SA, Agri SA, Absa, Landbank, die Landbounavorsingsraad, SA Wyn, SA Olyf, Syngenta en SABI.

Mashatile het die gehoor toegespreek voordat hy ‘n wandeling deur die uitstallings geneem het, waar hy regstreeks met produsente, landbouondernemings en uitstallers in gesprek getree het.

Volgens dr. Dirk Strydom, Nampo se besturende direkteur, het die week weer eens getoon watter belangrike rol Nampo Kaap speel om ‘n ruimte te skep waar produsente toegang tot die nuutste kennis en tegnologie kan kry sonder om ver van hul plase af te reis. “Die groei van Nampo Kaap wys net hoe relevant en noodsaaklik hierdie platform vir produsente in die wintergraangebiede is. Dit is ‘n plek waar idees uitgeruil word, uitdagings aangepak word en oplossings uitgestal word, wat werklik verandering op plase kan dryf,” het Strydom gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article