Caledon-vroue kan nie uitgepraat raak oor middagtee in skoolsaal nie

Philda Schoeman, Rowena Cupido, Rose Hoorn, Jaydene Theunissen en Joan Brinkhuys by die middagtee. Foto: Mitzi Buys

Die Enosh Evangeliese Pinkster-bediening het onlangs ter viering van Vrouemaand ‘n middagtee vir vroue in die Swartberg Primêr-skoolsaal aangebied.

Soos dit by ‘n middagtee hoort, was die tafels keurig gedek en die vroue wat die geleentheid bygewoon het, deftig geklee. Die tema vir die geleentheid was “Wat dit is om vrou te wees”.

Die gassprekers Rowena Cupido, Jaydene Theunissen en Philda Schoeman het hul lewensverhale deur inspirerende getuienis met die gaste gedeel. ‘n Inte- ressante vasvra oor vroue in die Bybel is gehou en mense wat die regte antwoorde verskaf het, is elk met ‘n sjokolade beloon. ‘n Heerlike warm middagete is voor die toesprake voorgesit en die allerlekkerste soet- en soutgebak is ter afsluiting met tee en koffie verskaf.

Rose Hoorn, die organiseerder van die middagtee, wat ook ‘n geldinsamelingsprojek was, sê dit was ‘n baie geseënde en geslaagde geleentheid en almal het dit baie geniet en gevra dit moet volgende jaar weer plaasvind.

“Dit was ‘n geleentheid vir vroue om vir ‘n middag alles opsy te skuif en hulself ‘n bietjie te bederf en die geselskap van ander vroue te geniet. Die hoogtepunt vir my was toe ‘n 90-jarige vrou genoem het sy het feitlik nooit uit die huis gekom nie, maar wou by dié feestelike geleentheid wees en het tot daar gestap,” sê Hoorn. Die pragtig gedekte tafels is ook beoordeel en die gelukkige wenners is met ‘n heerlike sjokoladekoek beloon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article