Die Knoflokskraal-saga, wat in 2020 begin het toe die Khoi-San die grond tussen Grabouw en Botrivier langs die N2 onwettig beset het, het nou ‘n nuwe wending geneem toe die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, verlede Vrydag (22 Augustus) ‘n vergadering met belanghebbende partye gehad het.
Dié betrokke partye was Dean Macperson, die minister van openbare werke en infrastruktuur, munisipale amptenare en lede van Knoflokskraal. Volgens die woordvoerder van die premier, Regan Thaw, was die doel van die vergadering om oop kommunikasie tussen die verskillende partye te verseker.
“ ’n Taakspan met verteenwoordigers van al die regeringsentiteite is saamgestel om ‘n oplossing vir die kwessie te kry wat die belang van die inwoners, omliggende gemeenskappe en belanghebbende partye insluit,” het Thaw gesê.
Volgens Macpherson gaan hulle verder ook met ‘n fasiliteringsproses begin waar alle partye betrokke gaan wees. Verder gaan hulle ook veiligheid by Knoflokskraal versterk om te verseker dat verdere besetting nie sal plaasvind nie. Tans is daar ongeveer 4 000 inwoners op die stuk grond.
Winde het dit duidelik gestel dat niemand die reg het om grond onwettig te beset nie. “Die reg moet gerespekteer word terwyl die regte van alle betrokke mense gehandhaaf word. Besettings soos hierdie belemmer slegs die voorsiening van waardige, permanente en bekostigbare behuising op die lange duur,” het Winde bygevoeg.
Volgens Knoflokskraal-inwoners was hulle genoodsaak om die grond te beset weens die ekonomiese uitdagings wat hulle in die gesig staar. Ander was ook van mening dat die grond regmatig aan die Khoi-San behoort en daarom kon hulle die grond beset. Volgens Winde is geen formele grondeis egter teen die grond ingedien nie.
Die besluite wat tydens die vergadering geneem is, het die Knoflokskraal-gemeenskap ontstoke gelaat. Volgens die Khoi- inheemse party veroordeel hulle die voortdurende “intimidasie” deur die Wes-Kaapse regering en die Demokratiese Alliansie (DA) teen die Khoi-San-gemeenskap van Knoflokskraal ten sterkste. “Hierdie optrede skend nie net die menswaardigheid van ons volk nie, maar is ook ‘n direkte aanval op die voorvaderlike regte en kulturele soewereiniteit van die eerste volke van hierdie land,” het Dawid de Wee van die Khoi- inheemse party in ‘n persverklaring gesê.
“Knoflokskraal is meer as net ‘n nedersetting – dit is ‘n bewys van die Khoi-San se veerkragtigheid, selfbeskikking en eko- logiese rentmeesterskap. Families het hierdie grond sedert 2020 in ‘n selfonderhoudende gemeenskap omskep, waar voedsel verbou is, vee grootgemaak is en kulturele praktyke, wat lank ontken is, weer herstel is. Tog, in plaas daarvan om betekenisvolle gesprekke met ons aan te gaan, het die Wes-Kaapse regering gekies om veiligheidsmaatreëls te verhoog, inperkingsbevele af te dwing en verder teen die gemeenskap op te tree. Hierdie taktieke weerspieël die einste ontneming wat ons mense eeue lank verduur het,” het De Wee gekla.
Volgens De Wee eis hulle die volgende:
• ‘n Onmiddellike opskorting van alle inperkings- en uitsettingsakises;
• ‘n onderhandelingsproses waar die gemeenskapslede se voorvaderlike grondeise en kulturele regte erken word; en
• basieses dienste soos water en sanitasie, wat volgens die Grondwet verpligtend is.
“Ek wil dit duidelik stel: Enige verdere aksies teen Knoflokskraal sal nie net met weerstand begroet word nie, maar ook met wettige uitdagings en nasionale mobilisering. Die Khoi-San sal nie uitgewis word nie, ons sal nie stilgemaak word nie en ons sal nie ons reg prysgee om te leef, te floreer en te regeer op die grond van ons voorvaders nie,” het De Wee gesê.
Intussen het die burgemeester van die TWK, Lincoln de Bruyn, glo tydens ‘n vergadering met die Greyton Union of Taxpayers (GUT) bevestig dat TWK deur die menseregtekommissie aangesê is om Knoflokskraal van water te voorsien – al behoort die grond aan die departement van openbare werke en infrastruktuur.
Volgens kenners verbied die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur munisipaliteite om dienste op private grond te lewer.
“Die hele kwessie van Knoflokskraal kan verreikende gevolge vir die munisipaliteit inhou,” is daar glo tydens die vergadering gemeld. “Die inwoners is van water- pompe voorsien op voorwaarde dat hulle vir die elektrisiteit moet betaal, wat hulle versuim het om te doen. Verder eis hulle dat water twee keer per dag per vragmotor aangery moet word, al is dit teen ‘n koste van R135 000 per maand.”





