Mitzi Buys
Enige basaar is gewoonlik ‘n geleentheid waarna mense baie uitsien, want nie net heerlike eetgoed is te koop nie, maar dit is ook die plek om bekendes raak te loop en lekker te kuier en oor ‘n koppie koffie of tee te gesels.
Die Protea Dienssentrum se onlangse jaarlikse basaar, wat in die NG kerksaal gehou is, was gewis so ‘n geleentheid. Gaste kon tussen tuisgebak, vars groente en vrugte, vars vleisprodukte, pannekoek, die immergewilde basaarpoeding, boereworsrolletjies en verskeie naaldwerk-artikels kies en keur.
Marlene Rousseau, bestuurder van die dienssentrum, het aan Hermanus Times gesê hoewel baie mense by sportaktiwiteite van skole betrokke is, was daar steeds genoeg ondersteuning om ‘n baie suksesvolle basaar aan te bied. Rousseau het almal wat op welke wyse ook al bygedra het hartlik bedank.
“Dit was ‘n groot sukses en baie gate kan gevul word. Ons lede was feitlik almal op die een of ander wyse betrokke en daarvoor bedank ek hulle. Die belangrikste dankie gaan aan ons Hemelse Vader, wat ons so geseën het.”





