Mateo is die nuwe Afrika-kampioen in hoogspring.

Matao le Roux het verlede Woensdag (16 Julie) as lid van die Suid-Afrikaanse junior atletiekspan wat aan die CAA o.18 / o.20-kampioenskap in Abeokuta, Nigerië, deelgeneem het, ‘n goue medalje verower en sodoende die Afrika-kampioen geword danksy ‘n allemintige sprong van 2.06m. Hoewel Matao net 16 jaar oud is, het hy in die o.18-afdeling deelgeneem.

Hermanus Times het kort ná sy oorwinning met Matao gepraat – nie net om hom met sy skitte- rende vertoning geluk te wens nie, maar ook om te hoor hoe hy voel nadat hy die goue medalje gewen het. “Ek is baie trots op myself en voel baie tevrede omdat ek nou die African champ is,” het ‘n opgewonde Matao gesê.

Op ‘n vraag of hy voor sy deelname senuweeagtig was, sê hy: “Ek het voor die kompetisie wel ‘n bietjie getwyfel, maar tydens die kompetisie self het ek my mindset verander en sodoende het ek geslaag.”

Matao neem al sedert graad 5 tydens sy laerskooldae by Swartberg Primêr aan hoogspring deel. By die Hoërskool Overberg, waar hy skoolgegaan het voordat hy ‘n beurs vir die Hoërskool Stellenbosch losgespring het, het hy ook rugby gespeel, maar deesdae spits hy hom op hoogspring toe.

Maeve Jonkers, Matao se ma, sê: “Ek is baie trots op hom. Matao se harde werk en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp. My hart bars van trots. Ek wil net dankie sê aan God vir my seun se talente. Deur Hom is alles moontlik.

“Dankie ook aan my familie wat ons ondersteun en my dank ook aan sy afrigter, Heinrich Fortuin, wat hom hierdie jaar afgerig en toegesien het dat hy deur die 2m-grens breek. Ek weet Matao wou graag sy persoonlike beste van 2.10m ewenaar, maar 2.06m het hom ook goud laat wen. Dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat die geldinsameling ondersteun het, asook elkeen wat ‘n bydrae gegee het. Ons waardeer dit opreg.”

Heinrich Fortuin, Matao se afrigter sedert die begin van die jaar, sê: “Ek het verwag dat Matao gaan wen omdat hy hierdie jaar baie verbeter het. Hy het die talent en alles wat dit verg om ‘n kampioen te wees. Ek is regtig baie trots op hom.”

Op ‘n vraag of Matao se oefenprogram aangepas is, sê Fortuin: “Matao hou nie van hardloop nie, maar ek het hom baie meer laat hardloop. Ons het aan sy spoed, sy aanloop en sy vastrap gewerk. ‘n Mens wil nie te veel te vinnig aan sy natuurlike talent verander nie. Iets wat min mense weet, is dat ek, nes Matao, ‘n Caledonner is en ook ‘n leerder aan die Hoërskool Overberg was. Ons het ook by dieselfde hoogspring-afrigter, Réleen Swart, geoefen, maar natuurlik in verskillende jare.

“Ons het ‘n baie soortgelyke atletiekreis gehad. Dit is ‘n bestiering dat ons mekaar nou hier in Stellenbosch ontmoet het.” Oor wat die toekoms vir Matao kan inhou, sê Fortuin: “Hy het vanjaar met leaps and bounds verbeter. As hy kophou en aanhou hard werk, kan hy ‘n loopbaan hieruit maak en is die 2028-Olimpiese Spele ‘n moontlikheid.”

Johan Jacobs, die HS Overberg se hoof, sê: “Ons as die Hoërskool Overberg is baie trots op Matao se uitstekende prestasie. Al is hy nie meer een van ons leerders nie, is hy steeds ‘n Caledonner. “Die vordering wat hy die afgelope ses maande in sy hoogspring gemaak het, is absoluut puik. Baie geluk, Matao!”

In ‘n onderhoud met Making of Champions, ‘n Nigeriese sport-talent-agentskap, sê Matao die voormalige Olimpiese hoogspringkampioen van Katar, Mutaz Barsham, is sy rolmodel. Hy sê ook hy dra sy goue medalje aan sy ma op, “want sy is die beste en my grootste ondersteuner.”

Dat hierdie goue seun van Caledon sy tuisdorp ongelooflik trots gemaak het, is duidelik uit die talle gelukwense op sosiale media.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article