Rugbyliefhebbers kan uitsien na ’n opwindende naweek wanneer die vroue-7’s-rugbytoernooi vanjaar vir die vyfde keer in Hermanus gehou gaan word.
Die SA vroue-7’s-span, Zimbabwe se nasionale vrouespan sowel as spanne van oor die land heen, sal tydens die toernooi, wat hierdie jaar oor twee dae aangebied word, uitdraf.
Junior vrouerugbyspanne sal ook hul staal wys.
Aseza “Blommie” Hele, wat verlede jaar as nommer 8 vir die SA Vrouerugbyspan tydens die Wêreldbeker uitgedraf het en ook in 2019 as SA Rugby se Women’s Top Achiever aangewys is, is slegs een van die bekende name wat in aksie te sien sal wees.
Die toernooi skop Saterdag 25 Februarie by die Hoërskool Hermanus se sportterrein af. Michelle Bosch, een van die organiseerders, sê vanjaar se toernooi hou groot belofte in om beter en groter as voorheen te wees.
“Dit is die vyfde vroue-7’s-rugbytoernooi wat ons aanbied. Die 25ste Februarie is ook my kleinseun, wat in Thailand woon, se vyfde verjaardag, en daarom het ons ’n spesiale afdeling met kindervermaak wat ons aan hom opdra,” vertel Bosch, wat ook die Boland-vrouerugbyspan se spanbestuurder is.
“Die dag word soos met vorige toernooie opgedra aan vroue en bejaardes wat mishandel word. Die feit dat die toernooi nou oor twee dae is, is absoluut wonderlik! Ek is super-opgewonde en kan nie wag nie.”
Die toernooi, sê Bosch, sou nie moontlik wees sonder hul borge nie. “Baie dankie aan als ons ruimhartige borge: Wildcat Inflatables, Faircape Health, Inpower- finansiële dienste, Greeff’s, Percy Basson-vervoer, Toyota Hermanus, Autohaven, Coastal Tool Hire en Wonderland. Jul ondersteuning word waardeer. Baie dankie ook aan die Overstrand-munisipaliteit vir hul wonderlike diens.”
Bosch sê verpleegsters van Onrus Manor sal ’n Vitality-kliniek langs die veld bedryf. “Enigeen wat ’n lid is van Discovery-mediese fonds kan dus hul mediesefondskaart bring en ’n gratis ondersoek ondergaan.”
Die hekke open om 08:00 en die skares kan – buiten die rugby – ook uitsien na ’n flash mob, ’n vertoning deur Jarrod Prior en verskillende kosstalletjies.
’n Gelukstrekking met opwindende pryse sal ook gehou word.
Die toernooi sal regstreeks uitgesaai word (live stream).. Toegang beloop R25 en sluit ’n gratis koeldrank in. Bel Michelle Bosch by 076 503 5637 vir nog inligting.





