Die familie en vriende van die 14-jarige Siyanda Plaatjies van Grabouw, wat op 9 November by Hawston verdrink het, kan nou afskeid neem. Volgens ‘n gemeenskapsaktivis en vriend van die familie het sy liggaam Saterdagoggend by Kleinmond uitgespoel.
“Grabouwers, kom ons sê hartlike dank aan Marshall de Wet, wat ons seun Siyanda gevind het,” het Isabel Bailey gesê. Volgens Bailey het De Wet Saterdagoggend op die strand gaan draf toe hy op die oorskot afgekom het. “Hulle het my dadelik laat weet, want ons is Facebook-vriende,” vertel Bailey. Sy sê verder Siyanda het steeds sy hempie aangehad wat hy die dag gedra het.
“Nou kan ons closure kry en met die begrafnisreëlings begin,” het sy gesê.
Siyanda word Saterdagoggend begrawe. “Die familie sukkel finansieel baie en enige hulp sal waardeer word. Groenberg Sekondêr het sy skoolsaal aangebied en die skool het ook sy eie geldinsameling van stapel gestuur om die familie te help.” Bailey kan by 078 827 9161 geskakel word.
Siyanda het saam met familie en vriende by Hawston gaan swem toe hy verdrink het. Volgens ooggetuies het hy in die seestrome verdwyn.
• Teen druktyd is die liggaam van Calebjude “Long” Hunter nog nie gevind nie. Hunter het volgens berigte op Vrydag 14 November oorboord geduik om van sy besittings wat in die water geval het, terug te kry (“G’n teken van visser”, Hermanus Times, 19 November 2025).
Die twee voorvalle het ook weer die fokus op menseredders geplaas wat nie voltyds in Hawston gestasioneer is nie. Die Overstrand-munisipaliteit het aangedui dat menseredders van 1 Desember af in Hawston ontplooi gaan word.





