TygerBurger

Goeieman nóg beter ná rugby-verrassing


‘n Man van Kuilsrivier het die afgelope naweek sy tuinman die verrassing van ‘n leeftyd gegee deur hom na die DHL-rugbystadion te neem om sy gunstelingspan, die Stormers, in lewende lywe te sien.

Shafiek Mouton, ‘n sportagent van beroep, sê Moos Goeieman se van is ‘n raak beskrywing van die mens wat hy is. “Moos is ‘n eerlike, hardwerkende man wat lief is vir sy rugby. Hy het my Vrydag vertel dat hy laas in die jare negentig in lewende lywe na ‘n rugbywedstryd op Nuweland gekyk het. Die wedstryd was op ‘n Vrydagaand tussen die Bulls en die Stormers en wat uitstaan is dat hy onthou dat wyle Joost van der Westhuizen, ‘n skrumskakel, daardie aand vleuel gespeel het vir die Bulls. Jy kon sien daardie aand het vir Moos iets beteken en ek het gedog kom ek skep nog ‘n herinnering vir hom,” sê Mouton.

Nuweland bied nie meer rugbywedstryde aan nie en die Stormers speel nou tuiswedstryde in die moderne DHL-stadion, wat vir die 2010 Wêreld Sokkerbeker gebou is.

Die plan

Mouton het ‘n plan bedink om Goeieman by die stadion te kry sonder dat hy daarvan weet. “Ek het hom gesê ek het hulp nodig om iets swaar vir my suster in die middestad te gaan skuif. Ons het ooreengekom om mekaar omstreeks 13:45 by sy huis in Kalkfontein op te laai. Toe ek daar kom, het hy reeds by die nabygeleë winkel gewag. Toe ons by die stadion kom het hy eers besef waarheen hy onderweg is,” sê Mouton.

Die Stormers het Sondag teen die Dragons van Wallis gespeel en Goeieman kon sy opgewondenheid nie beteuel toe hy besef hy gaan een van sy helde, Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat hy “Shaka” noem, in lewende lywe sien nie. “Dit was een van die grootste verrassings ooit. Ek kan nie uitgepraat raak nie en ek sal vir Shafiek bedank tot die dood toe. Hy is ‘n goeie man en ek het nog nooit so iemand ontmoet nie. Dit was een van die beste dae van my lewe,” sê Goeieman, wie se dag meer spesiaal gemaak is deurdat Feinberg-Mngomezulu twee drieë gedruk het.

Generaal

Goeieman sê hy is hoopvol dat die Stormers vanjaar voluit sal gaan en die Verenigde Rugby-kampioenskap wen, mits “Shaka” fiks bly. “Hy is die generaal op nommer tien. Ek dink nie hy gaan sommer weer sy plek aan Handré Pollard afstaan by die Springbokke nie,” sê hy selfversekerd.

Ná sy wonderlike ervaring Sondag het hy nog net een droom en dit is om ‘n nuwe Stormers-trui te besit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article