Die groot wenner van die aand was Ghost Corner Wyne uit die Elim-wyk by Kaap Agulhas, met hul Ghost Corner Sauvignon Blanc 2024 het die gesogte SA Terroir Trofee vir die Top Wyn ingepalm het.
Ghost Corner se Thinus Botha het die trofeë ontvang vir die hul Ghost Corner Sauvignon Blanc 2024 wat as die Top Wyn by vanjaar se SA Terroir-toekennings aangewys is.

Die wynland het vandeesweek homself uitgevat vir die 20ste jaarlikse SA Terroir Wyntoekennings by die pragtige Lanzerac Hotel en Spa. En wat ’n geleentheid was dit nie! Vir die eerste keer het Minister van Landbou John Steenhuisen persoonlik die trofeë oorhandig aan die land se uitblinker wynprodusente.

Die groot wenner van die aand was Ghost Corner Wyne uit die Elim-wyk by Kaap Agulhas, met hul Ghost Corner Sauvignon Blanc 2024 het die gesogte SA Terroir Trofee vir die Top Wyn ingepalm het.

Maar dit was Piekenierskloof Wine Company naby Citrusdal wat werklik die aand gedomineer het deur met drie trofeë weg te stap. Nie net het hulle die trofee vir Top Produsent verower nie, maar ook die Top Enkelwingerdwyn-trofee vir hulle Old Vine Samson Straw Wine N/V – ’n besonderse wyn van Muscat de Frontignan stokke wat reeds in 1962 aangeplant is.

SA Terroir-toekennings 2025
Hier by die Terrior-toekennings is van links: Rosa Kruger (Heritage Wines); Anton Laas (Windmeul); Philip Viljoen (Bon Courage); Wouter Loubser (Piekenierskloof Wine Company); Minister John Steenhuisen (Minister van Landbou); Alecia Boshoff (Piekenierskloof Wine Company); Christo Pienaar (Voorsiter SANWSA); Thinus Botha (Cederberg Wine) en Bennie Howard (onder-voorsitter SANWSA)

Erfeniswingerde kry erkenning

Hierdie jaar het die kompetisie ’n nuwe trofee bekendgestel om die 20ste viering te vier: die Top Erfenis Wyn-trofee vir wingerde van 35 jaar en ouer. Windmeul Kelder het hierdie eer weggedra met hulle Chenin Blanc Reserve 2023 uit die onlangs afgebakende Agter-Paarl-wyk. Die wingerd dateer uit 1974.

“Dit is wonderlik om te sien hoe ons ou wingerde erkenning kry,” sê een van die aanwesige wynmakers. “Hierdie stokke vertel stories van dekades se wynmaakkundigheid.”

Met vier nasionale wenwyne – vir Cinsault, Grenache Noir, Heidedal Old Vine Cinsault en Old Vine Samson Straw Wine – het Piekenierskloof ook die trofee vir Top Area vir hulle streek verseker.

Bon Courage Landgoed in Robertson, ’n gereelde presteerder by hierdie kompetisie, het die Top Landgoed-trofee verower – hulle vierde keer in die kompetisie se geskiedenis (vorige kere in 2019, 2015 en 2013).

’n Skaars juweel uit die Cederberg

Een van die opwindendste stories van die aand kom van Cederberg, waar ’n Sauvignon Gris-wyn vir die eerste keer as nasionale wenner aangewys is. Hierdie skaars en unieke variëteit – ’n natuurlike mutasie van Sauvignon Blanc – beslaan net 0,6 hektaar op die Cederberg-plaas se Sandpoort-gebied. Dit was die eerste gesertifiseerde Sauvignon Gris in Suid-Afrika.

Altesaam 35 wyne uit 16 verskillende terreine het as nasionale wenners uitgeblink. Van hierdie wenners was 12 landgoedwyne en agt enkelwingerdwyne. Sewe deelnemers het uitgeblink deur twee of meer nasionale wenners op te lewer.

Die beoordelaars – ’n span kundiges onder leiding van Conrad Louw van die Kaapse Wynakademie – het hulle hande vol gehad om uit die groot aantal inskrywings te kies.

Wat maak terroir so spesiaal?

Terroir – daardie magiese element wat grond, topografie en klimaat kombineer om unieke geure en karakters in wyne te skep – bly die hart van hierdie kompetisie. Slegs wyne wat by die Wyn-en-Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ’n spesifieke wyk, distrik, landgoed of enkelwingerd mag deelneem.

Die volledige uitslae is beskikbaar op www.terroirwineawards.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article