Taakspan gestig nadat sindikate Vrystaat en Noordwes plase teiken
Daar is sterk aanduidings dat georganiseerde misdaadgroepe tans boere se saadvoorraad in die Vrystaat en Noordwes teiken ná ‘n saaddiefstalvlaag van meer as R2,5 miljoen.
Op 22 Oktober is drie mans op ‘n plaas in Delareyville gevang waar hulle ‘n beraamde half miljoen rand se saad wou steel. Op dieselfde plaas is daar verlede jaar ‘n miljoen rand se saad gesteel.
Miljoene verlore oor vier jaar
‘n Ingeligte bron vertel dat daar oor die afgelope vier jaar miljoene rande se saad gesteel is en verskeie sake is by die Noordwes-polisie aangemeld.
“Nie veel word deur hierdie polisiediens gedoen om dié soort misdaad te bekamp nie. Die beplande saaddiefstalle met verliese van meer as R2,5 miljoen dui op ‘n georganiseerde aanslag wat kan neerkom op sindikaatbedrywighede op plase in die Vrystaat en Noordwes,” sê hy.
Polisie-ondersoeke aan die gang
In Lichtenburg is een saak wat saad betrek sedert Augustus 2025 tot op hede aangemeld, sê kolonel Adéle Myburgh, seksiehoof vir mediaverhoudinge in Noordwes.
Myburgh sê ‘n 34-jarige boer op Vlakpan-plaas naby Lichtenburg het die plaas verlaat op Saterdag, 4 Oktober. Met sy terugkeer Maandagoggend, 6 Oktober, het hy ontdek dat mieliesaadsakke uit ‘n stoorkamer gesteel is.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat sê hulle neem kennis van verskeie gerapporteerde gevalle van saaddiefstal, veral in die noordelike dele van die provinsie.
“In reaksie hierop is ‘n toegewyde taakspan gestig om hierdie voorvalle deeglik te ondersoek. Die polisie werk nou saam met boere, landbouorganisasies en vennote in die privaatsektor om die moontlike betrokkenheid van ‘n sindikaat agter hierdie misdrywe te ondersoek,” sê kaptein Loraine Earle, woordvoerder vir die polisie in die Vrystaat.

Grootskaalse produsente geteiken
Jurg Kruger, voorsitter van E2 (Eyes and Ears) Vrystaat, sê tydens verskeie voorvalle by Lichtenburg, Bethlehem, Warden, Ventersburg en Viljoenskroon is groot hoeveelhede mielie- en sonneblomsaad gesteel.
Hy sê grootskaalse saadprodusente wat groot volumes saad koop en opberg, word geteiken.
Kruger sê daar is ‘n tekort aan saad en groot saadmaatskappye se voorraad is reeds uitverkoop.
“Hierdie situasie skep ‘n tekort aan saad en ‘n gunstige mark vir georganiseerde misdaadgroepe om op boere toe te slaan.”
Uitbreiding na ander produkte
Hulle dra ook kennis van georganiseerde groepe wat gifstowwe en chemikalieë kan teiken wat boere gebruik vir grondvoorbereiding.
“Die landbousektor word gereeld geteiken vir die diefstal van alle produkte—van saad tot kunsmis, chemikalieë en ook diesel. Die verliese in die landbousektor is reeds groter as dié van die kontant-in-transito-bedryf. Dit het ‘n enorme uitwerking op die land se ekonomie, wat nog nie besef word nie,” sê Kruger.
Dringende sekuriteitsmaatreëls
E2 doen ‘n dringende beroep op produsente om hulle bergplekke te beveilig met bykomende maatreëls soos sekerheidskameras, alarmstelsels, bewegingsligte, toegangsbeheer en fisieke versperrings. Sommige produsente het reeds hul pakhuisdeure toegesweis tot ná planttyd.
Beroep op rapportering
Die polisie in die Vrystaat doen ‘n beroep op alle slagoffers en geaffekteerde boere om enige voorvalle van saaddiefstal by hul naaste polisiestasie aan te meld.
“Dit het onder ons aandag gekom dat nie alle gevalle gerapporteer word nie, wat die ondersoek belemmer. Die rapportering van alle voorvalle sal die polisie help om ‘n duideliker prentjie van die aard en omvang van hierdie misdrywe te verkry, wat uiteindelik meer doeltreffende ingryping moontlik sal maak,” sê Earle.
Sy sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens bly verbind tot die bekamping van misdrywe wat die landbousektor raak en om te verseker dat oortreders voor die gereg gebring word.






You must be logged in to post a comment.