FOCHVILLE – Die Danie Theron-gedenksuil langs die N12 naby Fochville het die jongste slagoffer van toenemende erfenismisdaad geword nadat diewe die koper weerligafleierkabel van die historiese monument afgesteel het.
Die diefstal laat die gedenksuil, wat reeds vir meer as sewe dekades die moed van die beroemde Boereoorlogverkenner vereer, weerloos teen weerligaanvalle.
Die voorval kom kort na die reuse-skade wat vroeër vandeesmaand aan die Kruger-beeldegroep op Kerkplein in Pretoria aangerig is – ‘n verdere teken van die toenemende bedreiging wat erfenismonumente in die gesig staar.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting (ES), sê die herstelwerk sal die organisasie nagenoeg R70 000 kos.
“Dit behels die vervanging van die kabel met aluminium en die beveiliging van die struktuur teen toekomstige skade,” verduidelik Jansen.
Die ES het in 2003 die verantwoordelikheid vir die terrein oorgeneem nadat Die Voortrekkers dit aan die stigting geskenk het. Sedertdien is die ES verantwoordelik vir die instandhouding en beskerming van die historiese terrein.
Die diefstal van die ligafleier beklemtoon die groeiende probleem van metaaldiefstal by erfenismonumente regoor die land. Koper word veral geteiken vanweë die hoë markwaarde van die metaal.
Die Danie Theron-gedenksuil staan as ‘n blywende herinnering aan een van die Boereoorlog se mees bekende figure, wat bekend was vir sy verkenningswerk en moed tydens die konflik.
Die ES sal nou moet besluit oor addisionele sekuriteitsmaatreëls om soortgelike voorvalle in die toekoms te voorkom, terwyl hulle die koste van die herstelwerk moet dek.





