DE DOORNS – ‘n Jong tennisspeler van De Doorns se vlugvoetigheid op die tennisbaan het hom ‘n plek in die Suid-Afrikaanse Skoletennisspan besorg.

Elnico Jeftha, ‘n gr. 7-leerder aan die Hoërskool Hexvallei, presteer al van jongs af uitstekend op tennisbane oor die land heen en het die Wes-Kaap Kavaliers al verskeie kere verteenwoordig.

Ethan het gewoeker tydens die interprovinsiale tennistoernooi vir o.13-spelers, wat van 8 tot 11 Januarie in Bloemfontein gehou is. Hy was lid van die Wes-Kaap Kavaliers se A-span en het twaalf van sy dertien wedstryde gewen.

Die SA Skolespan is ná die toernooi aangewys en Elnico is een van die tien seuns en tien meisies wat gekies is. Die span toer van 25 Junie tot 4 Julie na Engeland.

Elnico en Minette
Elnico en sy afrigter, Minette Bruyns.

‘n Deel van hul toerprogram is om verskeie oefenskole van die Lawn Tennis Association te besoek. ‘n Reeks internasionale wedstryde wag ook op hom.

Dié uitstappie sluit natuurlik ook ‘n besoek aan elke tennisspeler se droom in: Wimbledon. Dit is ‘n wêreldbekende Grand Slam-toernooi op gras waar die beste internasionale tennissterre om die vroue- en mans-enkel-, dubbelspel- en gemengde trofees meeding.

Elnico is nie net toegewyd en gedissiplineerd in sy sport nie, maar ook in sy akademie, wat gewis ‘n goeie kombinasie vir ‘n blink toekoms is.

Elnico samel tans geld in om die droomtoer te kan meemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article