Morne Potgieter
Die vroue van Women of Worth (WOW) het voorverlede Saterdag (2 Augustus) hul vierde liefdadigheidsgeselligheid by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch, aangebied.
WOW het ten doel om vroue wat ondersteunende rolle in plaaslike gemeenskappe vervul, met vaardighede te bemagtig, wat hulle op hul beurt weer in hulle eie gemeenskappe kan ge- bruik.
Met die intrapslag het elk van die 10 gaste ‘n geskenkpak van die WOW-organiseerders ontvang.
Ná ‘n inleiding oor die belang- rikheid van die rol van vroue in die samelewing en oor hoe vroue hulself nie moet afskeep nie, het Elna Sutherland, tans besig met haar doktorsgraad oor hoe om families te ondersteun wat iemand aan kanker verloor het, op vroue-gesondheid gefokus.
Dit was ‘n insiggewende, dog informele praatjie oor borskan- ker en die vroeë waarskuwings- tekens waarop vroue bedag moet wees.
Die opvoedkundige sielkundige Maryke Duvenhage het met die gaste oor emosionele welstand gesels, wat tot wedersydse en interaktiewe gesprekke gelei het. Elkeen het ‘n joernaal ontvang en is geleer hoe om dit as ‘n manier te gebruik om aan hul emosies en gevoelens uiting te gee.
Hierna is die vroue die basiese vaardighede geleer en deur Anne-mi Smit van AMI Handmade Crochet touwys gemaak oor hoe om te hekel. Hulle het elkeen ‘n volledige beginnerstel ontvang, met wol, ‘n skêrtjie en ‘n hekelanaald.
Janré Potgieter het daarna die gaste geleer hoe om die aanvanklik beskeie opbrengs uit hulle hekelwerkprojekte op ‘n gedissiplineerde manier aan te wend om voorraad deurlopend aan te vul, ‘n kontantreserwe op te bou en so ook inkomste te verdien. Die deelnemeers is ook die geleentheid gebied om hul klerekas aan te vul uit gebruikte klere en bykomstighede wat deur inwoners geskenk is.
Ná ‘n middagete en laaste koffie het ‘n vervullende dag tot ‘n einde gekom. Die gaste het van van oor tot oor geglimlag en kon nie uitgepraat raak oor die wyse waarop hulle bederf is nie.
WOW is ‘n inisiatief wat deur Alida Potgieter, Olivia van Rooyen en Sunet Robbertse van stapel gestuur is. Die WOW-span is in staat om die gaste danksy skenkings uit die gemeenskap en ander geldinsamelingsgeleenthede te bemagtig.
“Die dag sou ook nie moontlik kon wees sonder die ondersteuning van die gemeenskap en almal wat agter die skerms gehelp het met die geldinsamelings en reëlings vir die dag nie. Ons waardeer jul hulp opreg,” lui ‘n verklaring deur WOW.
• Kontak Alida Potgieter by 082 518 9896 of stuur e-pos na apleerondersteuning@gmail.com of wowliefdadigheid@gmail.com met navrae.





