‘n Glimlag en altyd vriendelik is hoe Stellenbosch Chan Matthee sal onthou ná die jongman se skielike dood verlede Dinsdag (4 November).
Die 20-jarige Cloetesviller was welbekend vir sy op-en-wakker geaardheid, maar volgens sy ma, Simoné, het Chan met baie pyn saamgeleef. “Mense is regtig verbaas wanneer ek verduidelik hoeveel pyn Chan moes verduur, want hy het dit nooit gewys nie. Hy het altyd gesels en hard gewerk in alles wat hy gedoen het. Maar het hy geweldige pyn ervaar en het lank met hoofpyne gesukkel,” sê Simoné.
Chan, wat verlede jaar sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Stellenbosch voltooi het, het groot planne gehad. “Hy het groot drome gedroom en ek is oortuig hy sou hulle bereik het,” meen sy ma.
Optree en drama was onder die jongman se grootste passies. Chan was ‘n ekstra in die sepie Suidooster en het selfs belangstelling van ‘n agent gehad vir sy loopbaan in die kunste. Op skool het hy reeds naamgemaak op die verhoog en het aan die Proscenium-dramakompetisie deelgeneem wat hom op die planke by die Kunstekaap gebring het. “Chan was meer as net ’n leerder; hy was ’n entoesiastiese sportman en ’n ster op die verhoog. Hy was iemand wat met oorgawe en karakter elke uitdaging aangepak het en iemand wat lig gebring het in ons skoolgemeenskap. Sy nalatenskap leef voort in die herinneringe van vriende, opvoeders en almal wat hom geken het,” het sy alma mater oor Chan gesê.

Benewens die kunste het Chan se hart vir rugby geklop.
In Februarie het hy in sy pa, Cody, se voetspore gevolg en vir die eerste keer vir sy geliefde Blakes-rugbyklub uitgedraf. “Hy was so trots. Hy het gespot en gesê om skoolrugby te speel teenoor klubruby is ‘n groot verskil,” vertel Simoné. Dit was in hierdie wedstryd dat die skrumskakel harsingskudding opgedoen het. Ná Chan se besering is x-strale by die Stellenbosch-hospitaal geneem en hy het pynpille ontvang. Sy hoofpyne het egter vererger en nadat Chan ’n plaaslike dokter besoek het, is ‘n bril ook vir hom gemaak.
Simone sê hoewel die bril effense verligting gebring het, was Chan se hoofpyne steeds ‘n groot probleem. “Saans het ek sy kop maseer, maar soms was dit so seer, hy het gegil. In September het hy weer in ‘n rugbywedstryd harsingskudding opgedoen. Ons was weer hospitaal toe en die dokter het vir hom gesê hy moet ophou rugby speel, want indien hy weer harsingskudding opdoen is dit tickets vir hom. Chan wou egter nie ophou speel nie.” Volgens Blakes-rugbyklub het Chan soveel lewens geraak, beide op en van die veld. “Sy glimlag, sy energie en sy vriendelike hart sal nooit vergeet word nie. Hoewel sy tyd saam met ons heeltemal te kort was, inspireer sy gees steeds almal wat hom geken het,” meen die bestuur.
Verlede Sondag het Chan weer erger hoofpyn gehad. Die volgende dag was daar ‘n blou kol bo sy oog wat die gesin vermoed veroorsaak is deur bloeding op sy brein. Maandagaand het alles vererger en Chan was duiselig. Hy het glo vir sy broer, Zinzan, gevra om ys vir sy kop te bring omdat die pyn só erg was. Chan het daardie aand ook gebraak en Simoné het later uitgevind haar jongste seun het vroeër die dag sy kop in die badkamer gekap.
Ten spyte van die pyn was Chan Maandagaand nog aan die gesels. Dinsdagoggend het die gesin besef daar is groot fout nadat Chan nie wou wakker word nie. “Max [die gesin se hond] het by hom op die bed gelê en sy gesig gelek, maar Chan het nie wakker geword nie. Chan was altyd die een wat seker gemaak het Max kry sy kos,” vertel Simoné.
Chan is toe omstreeks 09:30 na die Stellenbosch-hospitaal. ‘n Paar uur later is aan Simoné en die res van die familie gesê Chan het bloeding op die brein en sal nie weer wakker word nie. “Ek wou nie die masjiene laat afskakel nie. Ek wou dit nie sien nie, maar die suurstof-masjien is geleidelik afgeskakel. My seun se hart het aanvanklik aanhou klop — hy was ‘n vegter.”
Simoné het aan Eikestadnuus gesê hoewel daar steeds baie vrae en hartseer is oor Chan se dood, vind sy vertroosting dat hy nie meer pyn het nie. “Nadat ek hom [tydens die lykskouing] gesien het, weet ek hy is op ‘n beter plek. Hy het mooi gelyk en het selfs in sy dood ‘n glimlag op sy gesig gehad.”
‘n Troosdiens word Dinsdag (11 November) om 18:30 vir Chan by die VGK Cloetesville gehou. Sy begrafnis sal Saterdag (15 November) plaasvind.






You must be logged in to post a comment.