'n Gedeelte van die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg.
Klagtes oor veiligheid by die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg is oor die jare op verskeie platforms aangemeld, maar steeds meen vele Stellenbossers hulle sal nie hul geliefdes se grafte besoek nie weens die gebrek aan sekuriteit. Foto: Yaël Malgas

STELLENBOSCH. – “Be careful! Here are people around and they are evil.”

Só waarsku ‘n werker by die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg nadat Piet de Koker (77) die afgelope naweek vermoedelik vir sy selfoon naby se seun se graf doodgesteek is.

Die gebrek aan sekuriteit by die begraafplaas is ná De Koker se dood onder die loep.

Inwoners van die buurt is veral onsteld omdat klagtes oor die toename in misdaad oor die jare op verskeie platforms genoem is.

Die Stellenbosch-polisie bevestig polisiebeamptes is Saterdag (17 Januarie) om 15:45 na die begraafplaas ontbied, waar ‘n sekuriteitswag De Koker uitgewys het. “Hy het op sy linkersy gelê en daar was bloed aan sy bolyf,” het kapt. Nathalie Martin, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.

Paramedici het die oorledene, wat met ‘n steekwond aan die bors gevind is, op die toneel dood verklaar.

Piet de Koker, vermoedelik vermoor tydens rooftog in Onder-Papegaaiberg, Stellenbosch. n
Wyle Piet de Koker (77).

Vasgehak

Volgens Liezel Vermeulen, De Koker se dogter wat in Onder-Papegaaiberg woon, het haar pa elke keer wanneer hy in Stellenbosch was, by haar boetie se graf gaan draai.

“Ons het planne gehad om die middag tydens die rugby te braai en ek het nie veel gedink toe hy nie opdaag nie. Ons het geweet hy gaan graf toe en sou sy broer in die hospitaal besoek.

“Tyd was nie sy baas nie en aanvanklik het ons gedink hy het by sy broer vasgehak, maar toe die wedstryd reeds begin het, het ons hom gaan soek,” verduidelik sy.

Die gesin het vermoed De Koker het dalk van sy geliefde motorfiets afgeval.

Vermeulen sê sy en haar man het besluit om die roete te ry wat haar pa na hulle sou ry. By die begraafplaas het hulle op polisiebeamptes afgekom en haar pa gekry.

“In dié stadium het ons nog geen verdere terugvoer oor die saak van die polisie ontvang nie, maar ons kon [Woensdag] sy motorfiets gaan haal. Hy was baie lief vir sy motorfiets en wou niks hoor om dit op te gee nie.”

Benewens sy liefde vir motorfiets- en fietsry het hy volgens Vermeulen daagliks kilometers ver op die strand in Strand gestap, waar hy gewoon het. Vermeulen sê geen afskeidreëlings is nog getref nie, maar hul afskeid van hom sal ‘n viering wees en nie ‘n begrafnis nie.

“So maer soos wat hy was, was hy baie lief vir kos, dus sal daar gewis baie kos moet wees. Dit is hoe hy dit sou wou gehad het.”

Die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg waar Piet de Koker gereeld sy seun se graf besoek het. Foto: Yaël Malgas

Op dowe ore

Volgens André Pelser, die voorsitter van die Stellenbosch-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is De Koker se moord veral ontstellend omdat verskeie ingrypings dalk sy dood kon voorkom het. “Hoe hartseer dat ‘n pa wat gereeld sy seun, wat op driejarige ouderdom verdrink het, se graf kom besoek, dit oorkom,” meen Pelser.

Misdaad in Onder-Papegaaiberg is lank reeds ‘n probleem met die rooftogte van selfone en fietse wat byna daagliks plaasvind.

Pelser sê bydraend tot die uitdaging is die plakkers wat hulle onder die Adam Tas-brug tuisgemaak het, mense wat met honde in die Papegaaiberg-natuurreservaat diere jag en die heining om die reservaat wat stuk-stuk weggedra word.

“Die GPF het hierdie kwessies herhaaldelik geopper, soos gesien kan word in ons notules, wat aan alle belanghebbendes versprei word en op die Middedorp- WhatsApp-groep geplaas word. Dit is duidelik dat kameras, veilige omheining, patrollies en vinnige reaksies noodsaaklik is,” verduidelik hy.

Die reservaat word ook deur voetgangers as ‘n deurweg tussen Khayamandi, die dorp en Onder-Papegaaiberg gebruik.

By navraag het die munisipaliteit gesê daar is bestaande en voortgesette samewerking saam met CapeNature, inwoners en rolspelers, wat sekuriteit by die reservaat betref.

“Verskeie veiligheidsmaatreëls is reeds bespreek en waar moontlik ingestel. Munisipale wetstoepassers patrolleer die betrokke gebied deurlopend, soos ook ander dele van die munisipale gebied wat gereeld aandag en sigbare patrollies geniet,” verduidelik Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder.

“Die munisipaliteit is bewus van die tragiese voorval en wil graag ons innige meegevoel betuig aan die familie, vriende en geliefdes wat deur hierdie hartseer gebeurtenis geraak is. Misdaad is ongelukkig ‘n werklikheid oor die land heen en raak Suid-Afrikaners daagliks. Die polisie ondersoek tans die moord en die munisipaliteit werk ten volle saam in die ondersoek. Soos nog altyd sal enige ondersteuning en inligting tot ons beskikking beskikbaar gestel word om die saak te help bevorder.”

LEES OOK: ‘Spesiale aanslaggebied hou voordele in’

Planne vorentoe

Christiaan Rust is aan die stuur van ‘n groep inwoners wat ‘n Onder-Papegaaiberg- spesiale aanslaggebied (SAG) wil stig. Hy sê misdaadvoorkoming en toeganglike, veilige staproetes is van die hoofredes vir die beplande SAG.

Rust sê in die bestek van slegs twee maande was daar in sy straat alleen drie rooftogte helder oordag.

“Met die stigting van die ander SAG-gebiede in die groter Stellenbosch was een van die bekommernisse dat misdaad vanuit die middedorp na Onder-Papegaaiberg skuif en dit is presies wat gebeur het. Rooftogte is algemeen, maar die vlak van geweld neem toe,” verduidelik hy.

Die Jonkershoek-SAG is in 2015 gestig en die middedorp het verlede jaar sy SAG amptelik op die been gebring. Inwoners van “Stellenbosch-suid”, wat onder meer Brandwacht, Dalsig, Die Boord en Krigeville insluit, het ook planne om ‘n SAG te stig.

Rust sê die begraafplaas in Onder-Papegaaiberg het ‘n brandpunt vir misdaad geword en ‘n omheining, goeie ligte en sekuriteitswagte by die begraafplaas sal daadwerklik help om die buurt veiliger te maak.

Rust sê ná die naweek se moord is inwoners veral senuweeagtig oor die toenemende misdaad. “Die dae dat ons wag vir die polisie of die regering om ons veilig te hou, is verby,” meen hy.

Pelser stem saam en sê ondersoek sal nou ingestel word na die koste van private sekuriteitswagte en kameras vir die area.

Die Stellenbosch-polisie ondersoek ‘n saak van moord; geen arrestasie is nog gemaak nie..

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article