Van Cloetesville na nasionale roem: Cape Whalers-blaasorkes bereik topvyf van 5FM-kompetisie

Lede van die Cape Whalers Field-orkes in aksie. Die orkes se blaas-orkes is onlans as ‘n finalis vir die 5FM-kompetisie vir blaasorkeste aangewys.

STELLENBOSCH – Strenk longe en goeie ritme het die plaaslike Cape Whalers Field-blaasorkes ‘n plek onder die beste vyf van die 5FM Brass Root-kompetisie besorg.

Dié orkes is in 1997 deur inwoners van Cloetesville en Macassar gestig. Deesdae het hulle musikante van Jamestown tot Macassar, wat as deel van die marimba-, perkussie- en blaas-afdelings saam met die groep se dansers optree.

Musikante van sewe tot 21 jaar oud is deel van die orkes.

“Dit is vir ons ‘n groot eer om onder die topvyf te wees – veral omdat dit die eerste keer is dat ons aan die kompetisie deelneem,” vertel Peter Wonci, die Cape Whalers se projek-koördineerder.

Hoewel die kompetisie slegs vir die blaas-orkes was, meen Wonci die hele orkes baat by die nasionale platform waarop hulle blootgestel is.

Die Cape Whalers is die Wes-Kaap se finalis vir die nasionale kompetisie. Die ander orkeste is die Alexandra Field Band, Ezase Vaal Brass Band, Birchleigh Field Band en die Soweto Field Band. Die publiek het tot midderdag Vrydag (18 Julie) om vir hul gunsteling-orkes te stem, wat uiteindelik as die 5FM Brass Roots-kampioen gekroon sal word.

Hoewel die orkes veral met hul jazz- en R&B-opvoerings uitgestaan het, het hulle hierdie keer die amapiano-treffer “Imithandazo” van Kabza de Small en Mthunzi uitgevoer, wat die musikante se inskrywing vir die kompetisie was.

“Ons is al langer as twee dekades aan die gang en poog om nie net kinders met musiek uit die strate te hou nie, maar ook om geleenthede vir jong musikante te skep. Die orkes bied ouer musikante die geleentheid om later tutors te raak. Een van ons tutors het onlangs uit Norweë teruggekeer, waar hy vir ‘n jaar opleiding ontvang het, en die volgende musikant sal eersdaags inSwitzerland gaan ervaring opdoen,” sê Wonci trots.

Vir nou wag die orkes op hete kole vir die stemproses om te sluit, waarna die wenner van die kompetisie deur die radiostasie aangekondig sal word.

  • Stemme moet via die 5FM-toepassing gedoen word. Laai die 5FM-toep gratis af en stem vir jou gunsteling blaas-orkes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article