Avril Fillies
Die eerste span van die Franschhoek-rugbyklub en die vrouespan van Van der Stel-Evergreens is die twee plaaslike spanne wat Saterdag (13 September) op City Park die vlag moet laat wapper in die Superliga-halfeindstryde van die Westelike Provinsie.
Dit is Franschhoek se vyfde probeerslag om bevordering uit Superliga B na Superliga A te wen en hy het elke keer in die halfeindstryd vasgeval. Hopelik sal die span van die vallei Saterdag die knoop teen Kraaifontein deurhaak.
Kraaifontein het egter ook verlede jaar in die halfeindstryd teen VDE vasgeval en sal ‘n tree vorentoe wil gee. Franschhoek het die afgelope Saterdag die Collegians-rugbyklub in Franschhoek met 37-34 geklop, terwyl Belhar in die ander kwarteindstryd Goodwood met 34-28 getroef het.
Franschhoek pak dus Kraaifontein en Belhar het ‘n afspraak met Primrose.
VDE se vroue het die seisoen onoorwonne afgesluit en pak Busy Bee in hul kragmeting.
Die afgelope naweek was Pniël Villa- gers in aksie teen Gardens vir ‘n plek in die Superliga C-halfeindstryd. Hoewel hulle 26-26 gelykop gespeel het, het Gardens meer drieë gedruk en hulle speel dus in die halfeindstryd teen All Saints.
In die ander Superliga C-kwarteind- stryd het Violets 20-17 met Rangers afgereken. Violets speel die komende naweek teen Young Peoples.
In die kwarteindstryde van Superliga A het SK Walmers vir Valsbaai met 13-10 geklop. In die ander kwarteindstryd was Hamiltons te sterk vir Ikeys en is die studente huis toe gestuur met 41-17. Villager pak Hamiltons en SK Walmers speel teen Durbell in die halfeindstryde.
• Die eindstryde en uitspeelwedstryde word Saterdag 20 September ook op City Park beslis.





