Beamptes van Groot Drakenstein-polisie het vandeesweek misdaadbekampingsuksesse behaal danksy inligting van die publiek.
Ná vele klagtes uit die Cloetesville-gemeenskap het wetstoepassers van die Stellenbosch-munisipaliteit oor die afgelope twee weke verskeie optredes saam met die plaaslike polisie gehou as deel van ‘n misdaadbekampingsoperasie. Inwoners het egter gekla die byna daaglikse skietery in Cloetesville het nou oorgespoel na Kylemore.
In ‘n voorval Saterdag (13 September) is ‘n 21-jarige gewond ná ‘n skietery in Kylemore. Na aanleiding van die voorval het die plaaslike polisie inligting ontvang oor ‘n onwettige vuurwapen. Woensdag het beamptes van die Groot Drakenstein-polisie met behulp van die Stellenbosch-misdaadintelligensie-eenheid, die Boland honde-eenheid, munisipale wetstoepassers en die teen-bende-eenheid ‘n operasie in die buurt uitgevoer. Beamptes het verskeie wonings deursoek op soek na mense wat betrokke was by die vorige naweek se misdrywe.
Lasbriewe is uitgevoer en drie verdagtes is uiteindelik in hegtenis geneem weens poging tot moord, twee vir die besit van dwelms, en ‘n derde vir die besit van vermoedelike gesteelde goedere. Tydens die operasie is ‘n onwettige vuurwapen gevind, tik, asook Mandrax.
Die verdagtes, van tussen 20 en 41 jaar, verskyn vandag (Vrydag 19 September) in die Stellenbosch-landdroshof in verband met die verskeie klagtes teen hulle.







