Drie Stellenbosse skole en leerders van ander skole in die dorp is onder die provinsie se bestes, wat verlede Donderdag (29 Januarie) tydens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se 2025- Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-prysuitdeling by Leeuwenhof vereer is.
Dié jaarlikse spoggeleentheid word deur die onderwysdepartement en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, aangebied en vier die uitstaande akademiese prestasies van die provinsie se skole en kandidate in die matriekeindeksamen.
Onder die skole wat vanjaar vereer is, is Rhenish Girls’ High School, die Hoër Meisieskool Bloemhof en Paul Roos Gimnasium. Al drie skole is onder die provinsie se 20 beste skole (80 of meer kandidate), met Rhenish wat die vierde plek op dié lys beklee, Bloemhof die vyfde plek en PRG die negende plek.

Bloemhof is ook onder die skole wat vir volgehoue akademiese uitnemendheid vereer is. Die skool het ‘n prys ontvang nadat dit vir oor vyf jaar (2021 tot 2025) ‘n slaagsyfer van 95% en hoër gehandhaaf het. Dié erkenning volg kort nadat die Skoleondersteuningsentrum die skool as die land se beste Afrikaanse skool aangewys het, gegrond op die aantal onderskeidings per kandidaat van die NSS-eksamen.
Altesaam 140 kandidate van Bloemhof het die eksamen afgelê, met dié klas wat altesaam 508 onderskeidings teen ‘n gemiddelde 3,62 onderskeidings per kandidaat opgeraap het.
Bloemhof en Rhenish het onderskeidelik die eerste en tweede plek vir die bevordering van tegniese vakke verwerf.

“Ons is baie trots om aan te kondig dat Rhenish die algehele vierde plek in die Wes-Kaap verwerf het – ‘n merkwaardige prestasie wat uit die toewyding van ons 2025-matriekklas spruit,” lui ‘n inskrywing op hul Facebookblad. “Geluk aan ons leerders, personeel en die klas van 2025 vir hierdie uitstaande prestasies.”
LEES OOK: Western Cape honours 2025 matric top achievers after record-breaking results
Katie Pratt van Rhenish is as die provinsie se beste leerder in visuele kunste aangewys, terwyl die dux-leerder Kristin Williamson asook Chloe Farrel onder die 10 beste Wes-Kaapse matriekleeders geëindig het.
Bloemhof het ook ‘n toekenning vir uitnemendheid in Afrikaans-huistaal ontvang. “Bloemhof se klas van 2025 het met ‘n vakgemiddelde van 82% en bykans 70% van die graadgroep wat in die NSS onderskeidings in dié vak behaal het, die provinsie se algehele beste prestasie in Afrikaans-huistaal gelewer,” lui ‘n inskrywing op die skool se Facebookblad.
“Ons is nie net trots op ons leerders nie, maar ook trots op die kundige leerkragte – Hesmé de Klerk, O’Dine Lategan (vakhoof), Louise Joubert, Irene Kritzinger, Santjie van Vuuren en Lida de la Bat.”

Benewens die algehele prestasie van PRG het twee van die skool se leerders, Aaron Miller en Ian Lubbe, die top-40-lys met onderskeidelik nege onderskeidings en ‘n gemiddelde van 94,83% en 10 onderskeidings en ‘n gemiddelde van 94,67% gehaal.
Marguerite Steenkamp van die Hoërskool Stellenbosch is ook vir haar prestasie in Afrikaans-huistaal vereer. Sy en twee ander leerders het die hoogste punt (97%) vir Afrikaans-huistaal in die NSS-eksamen behaal.




You must be logged in to post a comment.