Die Stellenbosch-streek se Prestige-landbouprysuitdeling het verlede maand weer eer gebring aan die ruggraat van die landboubedryf en is deur verskeie produsente en ingeskrewe deelnemers bygewoon.
Die geleentheid is deur die Stellenbosse Landbougenootskap aangebied en deur die Wes-Kaapse departement van landbou en Shoprite gefinansier.
Die Stellenbosch-streek het vanjaar altesaam 100 inskrywings van deelnemende plase ontvang. Van die deelnemers was 20 vroue en 80 mans, met 42 nuwe deelnemers wat vir die 2026-toekennings benoem is.
ALSO READ: Stellenbosse Landbougenootskap vereer vir bydrae tot Wes-Kaapse landbou

Lewis dra die kroon
Die Stellenbosch-streek is reeds van 2008 af by die kompetisie betrokke en het met 36 deelnemers begin.
Vanjaar se algehele streekswenner was Marcus Lewis van die Kanonkop-plaas. Lewis was ook die afdelingswenner in die afdeling vir junior bestuur.
Hy het hierdie gesogte toekenning op Donderdag 30 Julie by die Doornboschsentrum ontvang, waar die prysuitdeling gehou is.
Lewis was in 2018 die tweede naaswenner in die afdeling vir tegniese operateurs en het dié afdeling in 2019 gewen. Hy het dié prestasie in 2024 herhaal en verlede jaar die voorman-afdeling gewen.
Dié man van vele talente het verlede Februarie die eerste ontvanger van die Wynoesherdenkingsgeleentheid se Wyn-Agriwerker van die Jaar-prys in Groot Constantia vir sy jare lange prestasies en tegniese kundigheid in die wynbedryf geword.
Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was sy deelname aan die Kelderwerker-uitruilprogram in Boergondië in Frankryk in 2015.
Ten spyte van al sy toekennings bly Lewis ‘n nederige mens wat ander inspireer en aanmoedig om deur opleiding en harde werk ook sukses te bepaal.
Ander uitblinkers
Een van de ander afdelingswenners was Ncediwe Futshane van Hartenberg, wat die beste algemene werker is. Die top drywer was Simon Xelelo van Vergelegen. Dit blyk daar is min van diereproduksie wat Akhona Songelwa van Hartenberg, nie weet nie.
Kanonkop se Marvin Abrahams is as die besproeiingspesialis aangewys, terwyl die toekenning vir tegniese operateur aan Leonie Pietersen van Vergelegen gegaan het.
Kanonkop se ander uitblinker, benewens Lewis, was Renitha Booysen vir administratiewe personeel. Die toekenning vir sosiale ontwikkeling behoort aan Anneline Haas van Villiera Wines, en Delheim se Riaano Julies is as die top voorman/-vrou aangewys.
Thembisa Masina van Taaibosch het die toekenning in die kategorie vir middelbestuur opgeraap. Die Beste Presterende Plaas was Meerlust met ses toekennings en die Beste Potensiaal het gegaan aan Pietersen.
Twaalf van die toekennings het gegaan aan persone wat vir die eerste keer ingeskryf het.
Al die wenners dring deur na die provinsiale kompetisie wat later vanjaar aangebied sal word.
Die Stellenbosse Landbougenootskap wens die plaaslike deelnemers alle voorspoed vir dié kompetisie.
ALSO READ: Landbou vereer beste personeel by prestige geleentheid





You must be logged in to post a comment.