Woonplek in die Stellenbosse munisipale gebied kan vir vele ‘n uitdaging wees met almal – van gevestigde Stellenbossers tot studente en jappies – wat hul eie struikelblokke ervaar.
Daarvoor het die Stellenbosch-munisipaliteit die inklusiewe soneringsbeleid aangeneem in ‘n poging om meer behuising meer toeganklik vir almal te maak.
Hierdie beleid, wat as deel van ‘n munisipale verordening ingestel is en toegepas word, vereis dat 20% van enige behuisings- of gemengde-gebruik-ontwikkelings met meer as 20 wooneenhede, aan bekostigbare behuising afgestaan word. Die beleid definieer bekostigbare behuising op ‘n skaal waar eiendom ‘n markwaarde van tussen R300 000 en R1,2 miljoen het. Sedert dit in Junie 2023 deur die Stellenbosch-munisipaliteit aanvaar is, is twee ontwikkelings goedgekeur.
Hierdie twee, saam met die vyf wat in die tussentydse tydperk van beleid-implementering goedgekeur is, dra gesamentlik by tot 907 bekostigbare woonplekke wat beskikbaar gestel sal word in onder meer die Adam Tas-korridor en Klapmuts. Die Newinbosch-ontwikkeling alleen sal gevolglik 144 bekostigbare wooneenhede hê.
Met die ontwikkeling van die riglyne vir die Adam Tas-korridorontwikkeling het die munisipaliteit ook bekostigbare behuising deel van ontwikkelaars se be-
planningsverpligting gemaak. Nou sal 343 bekostigbare behuisingseenhede as deel van dié projek gebou word.
Die plaaslike munisipaliteit is slegs die tweede munisipaliteit in die land, naas Johannesburg, en die enigste in die Wes-Kaap om dié beleid in werking te stel.
Volgens die burgemeester, Jeremy Fasser, lewer die beleid reeds resultate. “Deur hierdie beleid probeer ons die narratief oor bekostigbare en waardige behuising herskryf – om te wys dat toegang tot behuising geïntegreerd en toekomsgerig kan wees en dat plaaslike regering die voortou kan neem in die skep van herhaalbare modelle vir ander gemeenskappe oor Suid-Afrika heen. Dit gaan daaroor om beleid in aksie om te skep, en aksie in uitwerking,” het Fasser vroeër vandeesmaand by ‘n dialoog-geleentheid oor die beleid gesê.
Die geleentheid is deur die munisipaliteit en die Ontwikkelingsaksiegroep (DAG) aangebied.
Hier het belangstellendes die geleentheid gekry om meer oor die beleid, die instelling en ontwikkeling daarvan te bespreek.
Die raadslid Marius van Staden van die GOOD-party het die beleid verwelkom, maar gemaan die toepassing daarvan “is uiters belangrik”.
“Dit is ‘n noemenswaardige mylpaal, maar ons bly versigtig. Beleidsgoedkeu- ring is een ding. Om huise te lewer wat werklik bekostigbaar en toeganklik vir werkersklasinwoners is, is ‘n ander,” het hy luidens ‘n verklaring gesê.
Die party is lank reeds krities oor die Wes-Kaapse regering se Inklusiewe-behuisings-raamwerk aangesien dit vrywillig en “onafdwingbaar en heeltemal geskei van betekenisvolle impak” is.
“Ruimtelike transformasie kan nie net op papier gewettig word nie. Dit vereis politieke wil, deursigtige implementering en diep gemeenskapsdeelname. Geraakte gemeenskappe moet mede-outeurs van behuisingsoplossings wees – nie net geraadpleegdes in ‘n beleidsproses nie.
“Die werklike toets van hierdie beleid sal nie gemeet word aan beplanningsgoedkeurings of publikasies nie, maar aan werklik goedgeleë huise wat gebou is vir mense wat lank reeds van die stedelike kern uitgesluit is,” meen hy.
In plaas daarvan om die beleid as slegs voorskriflik te sien, is die idee vir die munisipaliteit om grondgebruik te benut om die “verlore middel” te help om
behuising te bekom. Die “verlore middel” is voortneme-nde huiseienaars wat nie vir staatsgesubsidieerde behuising of ‘n huislening kwalifiseer nie.
Helen Rourke, die programdirekteur by DAG, meen Stellenbosch se implementering toon dapperheid. “In ‘n land waar ruimtelike en inkomsteverskille steeds die daaglikse lewe definieer, is dit hoe ware ruimtelike transformasie lyk.”




