Mischa Leith het vanjaar haar laerskool-loopbaan met puik punte afgesluit en het nou hulp nodig om haar hoërskool-droom te bewaarheid.

Die 13-jarige was vanjaar ‘n gr.7- leerder van St. Idas Primêr, waar sy as hoofleier talle akademiese pryse ingeryg het. Sy sê haar akademiese sukses is deels aan die skool se puik onderwysers te danke.

“Die lesse wat hulle aangebied het, was lekker. Dit was nie net gewone lesse waar hulle net praat nie, maar dit was in hoe hulle die werk verduidelik het. My gunstelingvak was gewis ekonomiese en bestuurswetenskappe,” sê dié Eersterivier-tiener.

Haar ouer suster, Megan Julies, het seker gemaak Mischa het ‘n uitmuntende akademiese voorsprong en het haar met die hoërskool-aansoekproses gehelp.

Saam het hulle onder meer aansoek gedoen by Stellenbosch-skole, sowel as by skole in Worcester – en by die skool wat Mischa uiteindelik gekies het, die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

“Ons het aansoek gedoen by skole in Stellenbosch en dit was nie suksesvol nie. Omdat ons addisionele skole moes kies, het ek skole gekies wat puik presteer en vir my was Jan van Riebeeck onder daardie skole,” verduidelik Julies.

“Ek wil net die beste vir haar hê en indien dit Jan van Riebeeck is, of dalk ‘n ander skool, maak dit nie saak nie. Ek wou baie graag hê sy moes na ‘n skool gaan wat haar meer geleenthede vir die wye wêreld kon bied. Dié skool het meer om te bied en dit was belangrik,” meen sy.

Mischa Leith (13)
Mischa Leith (13) met haar vele akademiese toekennings.

Die susters sê hulle het ‘n neef wat by dié skool was en het dus gedink dit is ‘n goeie opsie.

“Ek het eintlik nie geweet sy het vir my by Jan van Riebeeck aansoek gedoen nie, want ek het nie gedink ek sou daar inkom nie. Ek het by my familie gehoor daarvan, want hulle het my toe almal begin gelukwens voordat ek self geweet het,” vertel Mischa.

Die tiener sê wat sy op dié skool se sosialemedia-platforms gesien het, maak haar nog meer opgewonde vir 2026.

Mischa sê sy skrik nie vir die uitdaging van die skool in die hartjie van Kaapstad nie en is gereed vir die koshuislewe. Dit is juis die koshuisgeld wat Julies nou hoop om deur ‘n BackaBuddy-veldtog in te samel.

Julies sê die familie behoort die skoolgeld te kan dek, maar die koshuis is ‘n bykomende uitgawe en om beide te dek, is ‘n uitdaging.

“Dit is nie dat ons net verwag mense moet inspring en help nie. Ons is oop vir voorstelle oor borgskappe en ander maniere om die geld in te samel,” vertel Julies.

Mischa het vir ‘n merietebeurs by Jan van Riebeeck aansoek gedoen, maar sal eers volgende jaar in April hoor of sy dit sal ontvang. Intussen moet die koste vir die koshuis gedek word voordat die skole in Januarie heropen.

Mischa weet nog nie wat sy ná skool wil doen nie, maar entrepreneuerskap en die regte is opsies. “Ons sê altyd sy moet ‘n prokureur word, want sy hou van debatvoering,” sê Julies.

Dit is ook geen verrassing dat Mischa een van die Wêreld open Woorde (WOW) se drie top-redenaars is nie. Sy sien ook daarna uit om by haar hoërskool se debatspan aan te sluit. Mischa is ook op die netbalbaan aktief en het verlede jaar by St. Idas Primêr met Franse lesse begin.

Hoewel haar ousus haar soms aanspreek om te studeer, bedank sy Julies vir al die hulp met alles – van modelinge tot motiveringspraatjies.

• Besoek https://www.backabuddy.co.za/campaign/it-takes-a-village-to-raise-a-kid om Mischa te help om ook haar potensiaal te verwesenlik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article