Credit: Facebook/Stellenbosch Municipality
Residents have the opportunity to comment op plans to create a pedestrian only event in the Stellenbosch CBD. Photo: Stellenbosch Municipality

Stellenbossers het steeds tyd om kommentaar te lewer op ‘n voorgestelde eksperiment van die Young Urbanists in ‘n poginig om meer voete in die dorp te kry.

Die Kerkstraat-Sondag-eksperiment is ‘n voorstel van dié gemeenskapsgroep om die bekende straat en ‘n gedeelte van Andringastraat vir 12 weke op een dag per week te sluit met die oog om verkeer in die dorp te verminder en meer inwoners te kry wat te voet in die sakekern beweeg.

Die Young Urbanists hoop om in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit data in te win oor die lewensvatbaarheid van minder voertuie in Stellenbosch se dorpsgebied.

Verkeersprobleme is jare lank reeds ‘n kopseer vir Stellenbosssers, met die munisipaliteit wat oor die jare met verskeie voorstelle gekom het om verkeersknope en ‘n tekort aan parkering die hoof te bied.

Die Kerkstraat-eksperiment is nie die eerste van sy soort nie. Die Young Urbanists het die afgelope jaar saam met die Stad Kaapstad gewerk om Breëstraat in Kaapstad vir verkeer te sluit. Sonder voer- tuie wat die straat gebruik het, het inwoners en besoekers die kans om sport in die pad te speel, piekniek te hou en selfs saamlees-sessies in die pad en op die sypaadjie te hou.

Deel van die Kaapstad-eksperiment was ook om die straat meer fiets-vriendelik te maak.

Lae-koste materiale soos veilige paaltjies en betonplate wat maklik verwyder kan word, word gebruik om ‘n versperring tussen fietsryers, wat die fietsrystrook gebruik, en verkeer te skep.

Die plaaslike munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het dieselfde strate in die dorp verlede Oktober gesluit vir die gebruik van fietsryers en voetgangers.

Die gewilde Stellenbosch Street Soirées, wat in die somer deur die Stellenbosch-wynroetes aangebied word, volg ‘n soortgelyke model met besoekers wat een Woensdag in die maand tussen 18:00 en 20:00 in die straat kan kuier en plaaslike wyne kan proe.

Sakelui, inwoners en die breër gemeenskap het nog tyd om hul insae te lewer voordat ‘n voorstel aan die munisipaliteit voorgelê word vir ‘n besluit om die eksperiment in te stel.

Die munisipaliteit het by navraag gesê die sluitingsdatum vir kommentaar is Vrydag 20 Februarie. Die hoop is dat die verlengde kommentaartydperk ‘n wye reeks perspektiewe, werklike ervarings en praktiese oorwegings uit die gemeenskap sal verseker.

• Besoek die Young Urbanists South Africa of die Stellenbosch-munisipaliteit se Facebookblad vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article