‘n Egpaar van Klapmuts, wat op die Hoopenberg-bessieplaas naby die Proteapad woon, het verlede Woensdag (10 September) in die middernagtelike ure wakker geskrik nadat vensters van hul huurhuis gebreek is en drie inbrekers toegang tot hul huis verkry het.
Die voorval, wat plaaslike veiligheidstrukture as die eerste plaasaanval in 15 jaar in dié gebied beskryf, het die gemeenskap diep ontstel.
Erica de Villiers, ‘n woordvoerder vir die Klapmuts-plaaswag, het die voorval bevestig en gesê die oortreders het in ‘n oop sloot onder deur die plaas se geëlektrifiseerde heining gekruip. Hierdie opening is intussen toegemaak.
Volgens haar is die betrokke plaas nie lid van die plaaswag nie, maar die plaaswag is oor die voorval ingelig.
De Villiers het verduidelik die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind toe minstens drie mense toegang tot die plaashuis verkry terwyl die twee inwoners, ‘n man en ‘n vrou, geslaap het.
Die egpaar se slaapkamervenster is blykbaar eerste oopgebreek en stukke glas het op die vloer geval, waarop die egpaar hul voete gesny het toe hulle na die badkamer gevlug het.
Volgens kapt. Jacobus Moos, die stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie, het ‘n “onbekende man die [egpaar] deur [hul] slaapkamer se oop venster wakker gemaak”. Die inbreker het toe glo ‘n skoot met ‘n vuurwapen afgevuur, waarna die man hom deur die venster met ‘n strykplank bygekom het.
In die badkamer kon hulle dadelik iemand oor die voorval inlig omdat hulle een selfoon na die badkamer gevat het.
Die oortreders het toe ook hul aandag op dié vertrek toegespits, waar hulle die venster oopgeslaan en die man se trouring deur die venster van sy hand probeer afruk het. Hulle het egter misluk, waarna die vrou haar ring gegee het, asook haar man se selfoon, wat hulle ook wou hê.
Volgens Moos wou die rower ook geld hê en het gevra oor ‘n kluis. Die oortreders het met die aankoms van die persoon wat vir hulp gekontak is, gevlug nadat hy op die huis afgejaag het met sy motorligte aan terwyl hy op die toeter gedruk het.
Volgens hierdie persoon, wat anoniem wil bly, woon hy en die egpaar sowat 100 m uitmekaar op Hoopenberg en het hy met sy aankoms by hulle dadelik die plaas se sekuriteit in kennis gestel, wat toe die polisie ontbied het. Die aanvallers was glo gewapen met minstens ‘n geweer, waarmee hulle skote afgevuur het.
Die Klapmuts-polisie het blykbaar later aan die egpaar bevestig dat die geweer net leë koeëldoppies in gehad het. Deels van die rowwers se buit was tegnologiese apparaat en beursies.
De Villiers sê sowat drie tot vier ure voordat die voorval plaasgevind het, het die egpaar se honde onrustig geraak, maar toe weer ná ‘n rukkie stil geword.
Volgens haar moet dit ‘n aanduiding wees dat die oortreders toe al die inwoners dopgehou het. Die drie oortreders wat die egpaar gewaar het, het almal klapmusse gedra.
Die polisie ondersoek die moontlikheid dat vier oortreders by die rooftog betrokke was, maar dit kon nie bevestig word nie.
Volgens De Villiers het kameras wat op die Proteapad kyk, geen voertuie gedurende die aanval en inbraak waargeneem nie en die polisie vermoed die verdagtes het met ‘n motor weggery wat daar naby gestaan het.





