Die 55ste weergawe van die gewilde Stellenbosch-oesparade het die afgelope Saterdag (30 Januarie) ter viering van die parstyd deur die dorp se strate gevaar.
Terwyl werkers op wynplase in en om Stellenbosch woeker om druiwe van die wingerd na die bottel te kry, het plaaslike agriwerkers aan die jaarlikse parade deelgeneem. Wynplase het oudergewoonte met hul vlotte deur die strate beweeg terwyl die trompoppies van Pieter Langeveldt Primêr met hul danspassies geswaai en draai het en die manne van Paul Roos Gimnasium se tromlyn gehelp het om die tempo te hou.
Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, het gesê die optog is nie net ‘n tyd vir feesvieringe nie, maar ook om stil te staan en dankie te sê. “Hierdie is ‘n oomblik om die harde werk van die hande en harte agter die bottels wyn te erken. Dit maak nie saak in watter rigting jy uit die dorp beweeg nie, want van Klapmuts tot Vlottenburg, Pniël en Somerset-Wes… wingerde is uiters belangrik vir Stellenbosch. Wyn is deel van ons kultuur, ons unieke erfenis en ‘n katalisator vir Stellenbosch se ekonomie,” het Fasser verduidelik.
Talle internasionale besoekers het ook die geleentheid geniet.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het besoekers van onder meer Nederland en Kanada verseker van die streek se beste wyne is reeds in hul tuislande beskikbaar. Meyer, wat op ‘n Stellenbosse Van Breda Agri-trekker aan die optog deelgeneem het, het die agriwerkers vir hul harde werk bedank.
Na afloop van die parade het werkers van die onderskeie wynplase die asem opgehou om te hoor wie vanjaar koning kraai vir die plaas met die beste gees sowel as beste vlot. Daar was geen keer aan die geesdrif van die span van Blaauwklippen (derde plek) en Bertha-wyn (tweede plek) nie, maar dit was die span van Skilpadvlei wat met die trofee vir die beste gees weggeloop het.
In die kompetisie vir die beste vlot het Asara met brons weggestap en Kaapzicht se dansend druiwe het hulle die tweede plek besorg, maar dit was Lanzerac wat vanjaar weer koning gekraai het met hul massiewe bottel pinotage en luukse vlot.
Eerwaarde Gurshon Pietersen het ‘n seën oor parstyd uitgespreek en die agriwerkers sterkte toegewens met hul werk.
















You must be logged in to post a comment.