‘n Onlangse nuusberig oor drie gevalle van aanvalle en rooftogte op gaste-plase in Franschhoek vanjaar het opslae gemaak nadat bronne in die berig beweer het die plaaslike polisie sloer om dié sake op te los.
In die mees onlangse voorval op 2 Augustus is ‘n man en vrou op die Chamonix-wynlandgoed-en-gasteplaas naby Uitkykstraat in Franschhoek kort ná middernag oorrompel – só erg dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word.
Eikestadnuus het berig dat die voorval in die vroeë oggendure plaasgevind het toe drie gewapende rowers by by die wyn- en gaste-plaas naby Uitkykstraat in Franschhoek ingebreek, die paar-tjie aangerand en hulle van verskeie besittings beroof het (“Broer en suster aangeval, 7 Augustus).
In ‘n soortgelyke voorval sowat twee maande tevore is vier vroue op 8 Junie op die Terra de Luc-gasteplaas ook deur drie mans oorrompel. Dié voorval het omstreeks 01:30 plaasgevind.
Die verdagtes het blykbaar twee vroue vasgebind en beveel om op die maag te lê terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het.
In nog ‘n voorval (op 31 Mei) op die Val d’Or-landgoed in Hoofstraat is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg toe drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry, die twee gaste aangeval en een in die been gesteek het.
Elektroniese toestelle en juweliersware is in al die voorvalle gesteel.
Volgens lt.kol. Frederick Rossouw, die bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, word die drie voorvalle steeds ondersoek.
Dit is volgens hom nie waar dat die plaaslike polisiekantoor sloer om dié sake op te los nie.
Rossouw wou egter geen ander kommentaar lewer nie en het die koerant na die provinsiale polisiekantoor verwys.
Eikestadnuus wou onder meer weet watter sake ondersoek word en hoe ver die Franschhoek-polisie met hul ondersoek strek. Geen antwoord is teen publikasietyd ontvang nie.
Die koerant verneem dat slegs sake van huisroof aangemeld is.
Die Burger het op 27 Augustus berig die laaste twee slagoffers, wat in die jongste voorval op Chamonix aangeval is, het glo ‘n private speurder aangestel om die voorval te ondersoek.
Die private speurder het toe glo die bankkaart van een van die slagoffers tot by ‘n winkel in Wellington nagespoor en vasgestel dat dieselfde voertuig in al drie rooftogte en aanvalle vanjaar op kringtelevisie-beeldmateriaal te sien is.
Volgens die nuusberig is hierdie inligting aan die Franschhoek-polisie oorhandig.
Rossouw weerlê egter hierdie verklaring en sê die Franschhoek-polisie het geen inligting van die private speurder ontvang nie.
Volgens hom bestaan prossese vir private speurders om saam met die polisie te werk en inligting te deel.
Die Burger berig dat die familiewoordvoerder van die man en vrou, wat op Chamonix aangeval en beroof is, “besef het die ondersoek gaan nie vorder nie”.
Hy het die ondersoekbeampte gevra of hy ‘n artikel 205-lasbrief verkry het sodat die diensverskaffers gevra kan word om te kyk of daar nuwe simkaarte in die gesteelde fone was.
Die ondersoekbeampte het toe glo gevra “of die private speurder dit gedoen het”.
Volgens ‘n anonieme verteenwoordiger van Val d’Or is dit vir die gasteplaas moeilik om te bepaal watter ekonomiese impak die huisrooftog op dié plaas se inkomste het omdat toerisme as ‘n reël in die wintermaande in hierdie gebied afneeem.
Die bron sê dat die gasteplaas tevrede is met die Franschhoek-polisie, wat dadelik op die toneel was toe die rooftog aangemeld is, se dienste om vingerafdrukke te neem en ander inligting te verkry.
‘n Ander ingeligte bron sê die publiek moet onthou dat die polisie landwyd toegegooi is onder werk.
Terra de Luc wou geen kommentaar lewer nie en geen terugvoer is van Chamonix ontvang nie.





