Bouwerk van die Newinbosch-buurtontwikkeling in 2025. Foto: Sebastian Machill
Bouwerk van die Newinbosch-buurtontwikkeling in 2025. Foto: Sebastian Machill

Waar hulle gedink het hulle koop hul droomhuise, het die proses om in hul permanente huise in te trek, vir sommige inwoners van die Newinbosch-ontwikkeling in ‘n nagmerrie ontaard.

Jennilee Geduld en haar man was van die kopers wat wonings in fase 1 van die behuisingsontwikkeling aan die buitewyke van Stellenbosch gekoop het.

Geduld sê die intrekdatum vir haar gesin is in 2024 verskeie kere uitgestel – soveel keer dat die gesin se meubels en huisgoed by familielede en vriende moes staan, in afwagting vir die dag wanneer die gesin in hul nuwe meenthuis kon intrek.

“Eers is ons gesê ons kan op 1 Desember 2024 intrek en natuurlik het ons al ons besittings opgepak en gereed gemaak om te trek. In November moes ons egter hoor die huis is nog nie afgeteken nie en ons sal nie in Desember kan intrek nie,” vertel sy.

Geduld sê die nuus was ‘n skok. Sy, haar man en hul vyfjarige seun was genoodsaak om vir drie weke by familielede in Eerste- rivier in te trek. Januarie 2025 het gekom en gegaan en steeds kon die gesin nie intrek nie.

Die intrek het so lank gesloer dat die Geduld-gesin ‘n ruk lank ‘n woonstel in die ontwikkeling gehuur het. Hul huurgeld is wel aan hulle terugbetaal. In Junie is die gesin uiteindelik in hul eie meenthuis.

“Wat die hele ongelukkigheid vererger het, was die gebrek aan klarigheid. Niemand kon vir ons reguit antwoorde gee nie en die kommunikasie was swak.”

Geduld se frustrasies was egter nie verby nie. Nadat die gesin ingetrek het, het hulle agtergekom daar is heelwat waterskade. Dit het onder meer tot muf in die kombuiskaste gelei en die vloere in die woning laat skeeftrek.

Waterskade in nuwe wonings

Nog ‘n inwoner wat met Eikestadnuus gesels het, sê ten spyte van vele pogings deur nutsmanne om die waterskade te herstel, bly daar foute en die werk word nie ten volle en korrek uitgevoer nie.

“Ons dak lek sedert ons ingetrek het. Volgens die kontrakteurs is dit ten volle herstel, maar ek weet nie of dit waar is nie. Elke keer wanneer dit gereën het, moes ons maar die emmers nader sleep, want dan lek dit.

“Sedert ons in Oktober ingetrek het, was daar meer as 15 keer iemand wat na die muf in kaste, die vloer of die dak kom kyk het, maar die probleem word eenvoudig nie opgelos nie,” het die inwoner, wat saam met ‘n eggenoot woon, vertel.

Hoewel hul woning nie na wense is nie, sê die inwoner veiligheid by Newinbosch is uitstekend en is die hoofrede hoekom hulle op die ontwikkeling besluit het.

“Ek wens net die bestuur doen meer om met ons as inwoners op te volg wanneer ons kla. Die kommunikasie is uiters swak. Die probleme wat ons op die snag-lys aangemeld het, is steeds nie reggemaak nie.”

Ontwikkelaar verduidelik

By navraag het Tarquin Geldenhuys, die projekbestuurder vir die ontwikkeling, gesê hulle aanskou die klagte van Newinbosch-inwoners in ‘n ernstige lig.

“Ons erken dat sommige inwoners voortdurende kommer aangemeld het ten spyte van vorige remedieërende pogings. Elke geval is uniek en vereis individuele ondersoek om die oorsaak en gepaste oplossing te bepaal.

“In sekere gevalle kan vertragings of herhaalde intervensies toegeskryf word aan die kapasiteitsbeperkings van ons tegniese en kontrakteurspanne, veral wanneer spesialis-insette benodig word. Ons hersien hierdie gevalle aktief om te verseker dat alle uitstaande kwessies deeglik en doeltreffend opgelos word. Ons is verbind om uitstaande probleme behoorlik op te los – nie net vinnig nie,” het hy verseker.

Hy erken dat van die vakmanskap vir die projek nie altyd na wense was nie en kontrakteurs wat swak werk verrig, is intussen vervang.

‘Herstelwerk voor 2026 voltooi’

Tydens fase 1 van die ontwikkeling is 200 wonings oorhandig, met 22 wat nog deur die nuwe eienaars afgeteken moet word. Geldenhuys sê die span werk om alle nodige werk voor die einde van die jaar te voltooi.

Geduld sê dit is nie veel troos terwyl sy en haar gesin uit kratte en bokse moet leef nie. Weens die swak toestand van die kombuis kan sy nie haar kos in die kaste plaas nie en sy stoor kos in kratte in die vertrek.

Daar is ook vele nuwe goed wat sy vir die nuwe huis gekoop het, onder meer ‘n stoof, wat nog nie in die huis is nie omdat sy wag vir al die herstelwerk om voltooi te word.

“Newinbosch se gehalteversekeringspro- ses is veelvlakkig en ontwerp om te verseker dat elke huis voldoen aan die standaarde wat verwag word,” sê Geldenhuys.

Dit sluit in voor-konstruksiebeplanning, inspeksies deur interne spanne, onafhanklike konsultante en regulerende liggame, asook gehaltebeheer-kontrolelyste van die kontrakteurs.

Die gehaltebeheer vind volgens Geldenhuys deur die bouproses plaas en word hersien om voldoening aan ooreengekome standaarde te verseker.

Volgens Geldenhuys is “belangrike lesse geleer” tydens fase 1. ‘n Nuwe stelsel is ingestel om beter tred te hou van inwoners se klagtes, die kontrakteurs se interne prosesse is verbeter en die span verantwoordelik vir die afronding van wonings se kapasiteit is vergroot.

Intussen sê Geduld sy hoop die herstelwerk sal, soos beloof, voor 31 Desember plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article