STELLENBOSCH – Dit blyk talle wil hê koppe moet rol by die Stellenbosch-munisipaliteit nadat ‘n beweerde rassistiese video Dinsdag 2 September op sosiale media opslae gemaak het.
In die kort video, wat op X (voorheen Twitter) geplaas is, is ‘n aanlyn-vergadering klaarblyklik aan die gang waar aanstellings vermoedelik bespreek word.
INHOUD EN UITLATINGS
Volgens bewerings is die man aan die woord die menslike hulpbronne-bestuurder van die Stellenbosch-munisipaliteit. Die “beampte” bespreek onder meer ‘n spesifieke kandidaat wat hulle glo reg vir die betrokke posisie is, asook ‘n tweede keuse wat na bewering ‘n interne aanstelling sal wees.
Die spreker gaan voort om te sê meer moet gedoen word om interne personeel te bevorder eerder as om slegs aanstellings van buite die instansie te maak. Hy sê verder hy is bekommerd dat daar “always whites” is wat aan die stuur is van veral tegniese en waterdienste.
“Ek het ‘n probleem daarmee, want die boodskap wat ons aan interne personeel stuur is dat hulle nie die vaardighede en bekwaamheid het om [die werk] te doen nie,” sê hy.

Die persoon sê hy sal dieselfde sentiment aan die munisipale bestuurder stuur vir haar oorweging.
Wat vele egter warm onder die kraag het, is dat die beampte sê die kandidate wat in die algemeen die beste vaar tydens aansoeke is wit mans, en hy meen dít maak transformasie binne die instansie moeiliker.
Dit is veral ‘n gedeelte waarin die beampte ‘n scenario skep waar die lewe “moeilik gemaak word” vir aangesteldes, hulle bedank en “ons kry wat ons wil hê” wat volgens kritici spreek tot die beampte se rasisme.
Daar onsekerheid oor wie die video-opname gemaak het.
WETLIKE GEVOLGE
Intussen het AfriForum bevestig hulle “sal verdere ondersoek instel na die diskriminerende praktyke binne Stellenbosch-munisipaliteit”.
“Munisipaliteite bestaan om dienste te lewer, nie om politieke speletjies met werksgeleenthede te speel nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.
In ‘n verklaring sê AfriForum om ‘n werknemer se lewe “moeilik” te maak kom neer op teistering. “Dit skep ‘n vyandige werkskultuur en stel die munisipaliteit bloot aan KVBA- en Arbeidshof-eise vir konstruktiewe ontslag en skadevergoeding,” lui die verklaring.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet (artikel 9) en die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) verbied onbillike diskriminasie, insluitend diskriminasie op grond van ras.
In ‘n kort verklaring het Jeremy Fasser, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, bevestig die betrokke vergadering het in 2023 plaasgevind. Hy sê ‘n ondersoek is van stapel gestuur oor die aangeleentheid en verdere kommentaar sal volg na afloop van die ondersoek.
“Op eerste oogslag wek die video groot kommer en ons sal agter die saak kom. Verdere gepaste stappe sal geneem word soos nodig,” sê Fasser.





You must be logged in to post a comment.