Paarl Post

Meer as miljoen doen aansoek vir polisie, beperkte aantal poste beskikbaar

Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Terwyl die polisie vandeesweek bevestig dat altesaam 1 049 998 aansoeke vir die 2025-’26-werwingsperiode ontvang is, het die DA in die Wes-Kaap opnuut ‘n beroep gedoen vir die desentralise- ring van die polisiediens, wat die provinsie in staat sal stel om sy eie polisiehulpbronne in misdaadgeteisterde gebiede te ontplooi.

Aansoeke vir rekruutwerwings het verlede Vrydag (18 Julie) gesluit. Slegs 5 500 poste sal gevul word.

Athlenda Mathe, ‘n nasionale polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê altesaam 595 049 aansoeke is van vroulike kandidate ontvang en 454 949 deur manlike aansoekers.

Die Gauteng-provinsie het die meeste aansoeke, met 267 031, gevolg deur

KwaZulu-Natal met 205 802.

Limpopo het 115 877 aansoeke, gevolg deur die Oos-Kaap met 108 709 en

Mpumalanga met 100 516. Die Wes-Kaap is vyfde op die lys met 86 496, gevolg deur die Vrystaat met 73 214. Noordwes het 66 167 aansoekers, en die minste is uit die Noord-Kaap ontvang met slegs 26 186.

Volgens Mathe beskik altesaam 334 765 aansoekers oor ‘n tersiêre kwalifikasie.

“Die hoë getal aansoeke is vir ons ‘n groot aansporing. Dit wys dat ons jong mense gereed is om die mense van Suid-Afrika te dien en te beskerm,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Thomas Walters, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, het vroeër vandeesmaand weer uitgevaar oor die gebrek aan polisielede in misdaadgeteisterde gebiede in die provinsie.

“Die polisiediens is onder die huidige gesentraliseerde nasionale stelsel nie toegerus om die provinsie se onaanvaar- baar hoë vlakke geweldsmisdaad te

bekamp nie. Dit blyk duidelik uit

onlangse antwoorde van die polisie op die DA se parlementêre vrae.

“Hierdie personeeltekort verlam die polisie se werksaamhede in die Wes-Kaap, met slegs 12 908 aktiewe polisie-lede,” het Walters op 9 Julie in ‘n

verklaring gesê.

Volgens hom wys die gemiddelde vakaturekoers van 12,39% oor alle polisiekantore op ‘n “diep hulpbronkrisis” in veral misdaadbrandpunte soos Belhar (68 aktiewe polisielede), Elsiesrivier (142), Kleinvlei (150) en Maitland (39).

“Hierdie kritieke tekorte ondermyn regstreeks reaksietye, die gehalte van ondersoeke en die publiek se vertroue in wetstoepassing.

“Die antwoorde het ook getoon dat opsporingstempo’s – die persentasie misdade wat opgelos word – op ‘n skokkend lae vlak is, veral vir geweldsmisdade.”

Volgens Walters is speurders oorlaai met ondersoeke. Hy sê in Khayelitsha hanteer een speurder gemiddeld 126 dossiere, in Manenberg 142 en in Delft

78 dossiere per speurder.

“Die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op die president, die minister van polisie en alle betrokke nasionale rolspe- lers om ernstige gesprekke aan te knoop oor die afwenteling van polisiefunksies aan die Wes-Kaap. Ons gemeenskappe verdien beter. Ons het ‘n polisiediens nodig wat sigbaar, goed toegerus, aanspreeklik en doeltreffend is. Laat ons veiligheid en waardigheid deur plaaslike aanspreeklikheid en provinsiale beheer na ons woongebiede terugbring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article