STELLENBOSCH – ‘n Advertensie deur die Universiteit Stellenbosch (US), wat in November ‘n opskudding op sosialemediaplatforms en in politieke kringe gebring het, is summier deur dié instansie teruggetrek.

Die advertensie vir twee junior navoringsinsternskappe is deur die US se Departement Agronomie gepubliseer, wat deel van die Landbou-fakulteit uitmaak. Dit het veral skerp kritiek van die VF Plus ontlok.

“Die advertensie lui onder meer dat slegs swart, bruin, Indiër of Chinese Suid-Afrikaners met ‘n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument daarvoor in aanmerking kom. In die praktyk is dit enige Suid-Afrikaanse burgers, solank hulle nie wit is nie,” het dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir hoër onderwys, in ‘n verklaring gesê.

“Die advertensie spreek van direkte diskriminasie, met weglating van die gebruiklike ‘voorkeur sal aan voorheen benadeelde kandidate verleen word’ – of iets soortgelyk. Dit beteken dat, indien geen swart, bruin, Indiër of Chinese Suid-Afrikaners aansoek doen nie, die poste nie gevul sal word nie.”

Die advertensie vir twee junior navoringsinsternskappe is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie gepubliseer.
‘n Skermgreep van die advertensie wat deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie gepubliseer is. Foto: Facebook

‘n Skermgreep van die advertensie is glo aan die party gestuur en, om die egtheid daarvan vas te stel, het die VF-Plus verder ondersoek ingestel.

“Hierdie is ‘n uitstekende voorbeeld van die ideologie van transformatisme,” het Boshoff gesê. “Daarvolgens moet elke instelling die demografie van die land weerspieël. Die werklikheid dat sommige wit studente arm groot word, terwyl daar swart, bruin, Indiër en Chinese studente is wat alle moontlike voorregte en geleenthede geniet, word totaal buite rekening gelaat.”

‘Ondersteun nie onbillike diskriminasie’

By navraag het Martin Viljoen, ‘n US-woordvoerder, bevestig die advertensie is teruggetrek en sal in Januarie 2026 heruitgereik word. Hy het nie ‘n tydlyn vir die heruitreiking gebied nie.

“Die geadverteerde internskap vorm deel van ‘n regeringsprogram wat daarop gemik is om deelname van aangewese groepe in die landbouwetenskappe uit te brei,” het Viljoen verduidelik.

“Terwyl die eksterne finansierder ‘n voorkeur vir kandidate uit aangewese groepe aangedui het, vereis die US se interne prosesse dat sulke voorkeure op ʼn wyse gestel word wat ooreenstem met Suid-Afrikaanse wetgewing en universiteitsbeleid. Dit is nie in hierdie geval gedoen nie. Die advertensie sal dus heruitgereik word.”

Viljoen het verder benadruk dat alle werwings- en internskapsgeleenthede van die instansie moet voldoen aan die Wet op Indiensnemingsgelykheid, die Grondwet, en die US se gelykheidsverpligtinge.

“Die US ondersteun nie onbillike diskriminasie van enige aard nie,” het hy bygevoeg. “Die universiteit stel die bydraes van alle personeel en studente hoog op prys en bly daartoe verbind om ‘n inklusiewe omgewing te bevorder waarin geleenthede verbreed word eerder as beperk word, en waar elke voornemende aansoeker regverdig behandel word.”

Volgens Boshoff sal die VF Plus “steeds poog om met die universiteit in aanraking te kom om hieroor in gesprek te tree”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article