Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, het onlangs op ‘n fiets geklim om die dorp se fietsgeriewe self te bekyk. Hy het die blootstelling aan die omgewing van plaaslike fietry as ‘n “eye opener” beskyf. Hy het die mooi roete langs die Eersterivier gery, maar ook kennis geneem van die probleme in Cluverweg, Van Riebeekstraat en Merrimanlaan.
Hy het ook self begin om gevaarlike kruispunte – soos oor die R310, die Helshoogtepad – uit te wys. Hy het gesê hy kan hom ‘n wyer Merrimanlaan met aparte fietspaaie voorstel. Daar was ook ligter oomblikke op sy eerste rit toe hy in ‘n stil Jannaschstraat vir ‘n entjie loshande gery en uitgeroep het: “Ek voel so vry!”
Dit is sy voorneme om nog inspeksieitte te onderneem om veral probleemsituasies te ondersoek.
Fasser is begelei deur Gawie Groenewald en myself van Stellenbosch Fietsry, ‘n groep wat hom beywer vir veilige fietsry in en om Stellenbosch.

Ons beskou die rit met raadslid Fasser as ‘n deurbraak vir plaaslike fietsry. As inwoners wat al baie jare fietsry op die dorp, was dit die eerste keer nog dat hulle ‘n burgemeester sien wat op ‘n fiets geklim het om met fietsryers die roetes te verken. Daarom die benaming “Fietsburgemeester van die munisipaliteit Stellenbosch”.
Ek hoop die burgemeester se betrokkenheid sal lei tot projekte vir veilige oorgange vir fietsyers en voetgangers uit verskeie woonbuurte – soos Idasvallei, Cloetesville, Onderpapegaaiberg, Kayamandi en Die Boord – na en van die middedorp en na en van mekaar oor gevaarlike kruispunte op die Helshoogtepad, Birdstraat, Adam Tasweg en die R44.
Dawid Botha,
Stellenbosch Fietsry





You must be logged in to post a comment.