Die gewilde Dagbreek-straatmyl in Victoria-straat, Stellenbosch sorg vanjaar weer vir opwinding. Foto: Charmaine Sander Photography
Die gewilde Dagbreek-straatmyl in Victoria-straat, Stellenbosch sorg vanjaar weer vir opwinding. Foto: Charmaine Sander Photography

Die 15de jaarlikse Dagbreek-straatmyl word op Woensdag 15 Oktober in Victoriastraat, Stellenbosch, beslis – met verskeie hoogtepunte en bekendes wat deel van die spesiale geleentheid is.

Dié jaarlikse byeenkoms is só gewild dat dit oor die jare heen tot 17 afdelings met afdelings vir onder 10’s en veterane uitgebrei het, asook die enigste skaatsplank-mylwedloop in Suid-Afrika.

Soos gewoonlik sal die studente weer in snaakse en kleurvolle uitrustings geklee wees, wat bydra tot ‘n unieke atmosfeer en ervaring, met musiek van die Redbull-vragmotor af en rasieleiers van die Hoërskool Stellenbosch wat die skare sal vermaak.

Die programleier, Altus Schreuder, se kennis en insig in atletiek sal weer tot onvergeetlike wedlope bydra.

SPESIALE HOOGTEPUNT

Twee atlete – Johan Fourie en wyle De Villiers Lamprecht – sal ook by die geleentheid in die Suid-Afrikaanse Heldesaal ingehuldig word, met Johnny Burger, die voorsitter van die SA Heldesaal, wat die inhuldiging sal behartig. Lamprecht het op 13 November 1964 op Coetzenburg geskiedenis gemaak toe hy die eerste SA atleet geword het wat ‘n droommyl hardloop.

Hy is ook die enigste atleet ter wêreld wat dit kaalvoet kon doen en die eerste atleet van Afrika om ‘n droommyl op die Afrika-vasteland te hardloop. De Villiers het altesaam 15 SA rekords in verskillende afstande behaal.

Fourie spog met 53 droommyle – die meeste deur enige SA atleet. Hy was vir 27 jaar die SA rekordhouer in die myl en is die enigste atleet ter wêreld wat twee droommyle binne ‘n uur kon hardloop.

Dit is spesiaal dat die inhuldiging tydens die Dagbreek-straatmyl sal plaasvind. Die geleentheid word ter ere van Lamprecht, ‘n oud-Dagbreker, en Fourie, die wenner van die eerste straatmyl wat in Suid-Afrika aangebied is, aangebied.

Lamprecht se kleinseun, ook De Villiers, reis van Bloemfontein om aan sy eerste Dagbreek-straatmyl deel te neem. Dié Grey Kollege-leerder sal aan die o.19-seunswedloop deelneem.

MEER AS ‘N WEDLOOP

Nog ‘n bekende wat vanjaar gesig sal wys, is Louis Massyn, wat vanjaar sy 50ste Comrades voltooi het. Hy stel die oggend van die wedloop sy boek, 403, the Louis Massyn Story, bekend. Verskeie oud-middelafstandbekendes ondersteun die wedloop elke jaar.

Die verdedigende mans-ope-kampioen, Deonlee Hendricks, sal terugkeer om sy titel te verdedig en hy mik om die eerste mens te word wat drie agtereenvolgende wedlope wen. Hendricks het onlangs ‘n bronsmedalje by die ASA Landloop-kampioenskap gewen.

Hy kan sterk kompetisie verwag van Luan Munnik van Potchefstroom, die 1 500 m-titelhouer van die SA senior kampioenskap en die SA Studentekampioenskap.

ANDER AFDELINGS

Die verdedigende o.19-seunswenner, Theunis Erasmus van George, is ook vanjaar terug. Sy tyd verlede jaar sou hom derde in die mans-ope-afdeling geplaas het.

In die vroue-ope-afdeling word sterk mededinging met Kyla Jacobs, Lisha van Onselen en Kobie Griffiths, wat reeds hul deelname bevestig het, verwag.

Die Olimpiese driekampatleet Vicky Botha sal ook weer haar hardloopskoene aantrek, maar hierdie keer sal haar man, Geo Botha, wat bekendheid verwerf het vir sy deelname aan die kykNET-werklikheidsreeks Die Brug, vir sy eerste Dagbreek-straatmyl aan haar sy wees.

Registrasie open om 14:00 voor die Dagbreek-manskoshuis en die eerste wedloop begin om 16:30.

  • Rig navrae aan Francois Fouché by 083 368 5948 of info@straatmyl.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article