cricket stock image. Photo by Freepik
Van der Stel is die wenners van die Boland-gemeenskapbeker. Foto: Freepik

Die eerste span van die Van der Stel-krieketklub (VDS) is verlede Saterdag (8 November) as die wenner van die Boland-gemeenskapsbeker gekroon ná sy oortuigende oorwinning teen sy eweknieë van die Vredenburg-Saldanha-krieketklub.

Dié spanne het mekaar in die eindstryd van die Premierliga T20-kompetisie op die Penn Basson-veld in Wellington die stryd aangesê, nadat hulle bo-aan die punteleer van hul onderskeie groepe geëindig het.

Die Stellenbossers het algeheel ‘n uitste- kende vertoning gelewer deur met beide die kolf én die bal uit te blink, asook uitste- kende veldwerk op te dis, wat uiteindelik tot hul 88-lopie-sege gelei het.

Tog was dit VDS se vertoning met die kolf wat die grondslag vir die oorwinning gelê het, nadat die kaptein Andre Hanekom die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

HANEKOM LEI VAN VOOR

Dit was vir seker die regte besluit, met Hanekom en sy aanvangskolwermaat, Werner Brand, wat uit die staanspoor van die beurt die oorhand gehad het. Dié paar het ‘n vennootskap van 133 lopies aangeteken, voor Brand (84 van 40 balle) in die 11de boulbeurt sy paaltjie verloor het.

Die volgende VDS-kolwer, Connor Batt, het die vinnige tempo van die kolfbeurt voortgesit en sy-aan-sy met sy kaptein deur die beurt gestaan.

‘n Prag-kapteinsbeurt deur Hanekom (103 van 47 balle) het in die 20ste boulbeurt tot ‘n einde gekom, met die telling op 252/2. Batt (54* van 32 balle) en Rickus Brand (8* van 2 balle) het die Van der Stel-beurt afgesluit met die telbord op 260/2 ná 20 boulbeurte.

Vyf straflopies is aan die einde van die beurt deur die skeidsregters weens trae boulwerk deur Vredenburg-Saldanha by die totaal gevoeg om die VDS-totaal na 265/2 te neem.

Dit het maar sukkel-sukkel vir die Weskussers met die bal gegaan, maar Thomas Kannemeyer (1/35) en Leighton Goeida (1/33) het darem elk ‘n paaltjie laat kantel.

BRAND EN KIE DOEN HUL DING

Op hul beurt het die VDS-boulers hul deel gedoen, met veral Werner Brand wat die regte vrae vir die manne van die Weskus gevra het. Ná die eerste vyf boulbeurte het die telbord op 50/2 gestaan, met die ervare aanvangskolwer, Giovanni Hulley, en Quinton Kannemeyer wat hul span se lopie-jaagtog voortgesit het.

Dié twee het net-net aan die gang begin kom toe Rayyaan Rhode (in die agtste beurt) Kannemeyer (42 van 17 balle) na die kleedkamer teruggestuur het.

Daarna het dit gelyk asof die Krewe se hoop op Hulley gerus het, met die lopies wat al hoe meer skaars geword het. Hulley (57 van 40 balle) is uiteindelik in die laaste bal van die 14de boulbeurt deur Werner Brand uitgeboul, met die Weskussers se hoop op oorwinning wat op 140/5 stadig maar seker begin verdwyn het.

Die VDS-boulers het gedissiplineerd geboul en goeie veldwerk het druk op die Krewe gesit. Dít het uiteindelik tot nog vier paaltjies gelei en VDS het die Weskussers tot 177/9 in hul 20 boulbeurte beperk om die sege te behaal. Werner Brand (4/26) en Jacobus Nel (2/18) het pragvertonings met die bal gelewer om hul span na die oorwinning te lei.

NUWE KOMPETISIE

Saterdag 15 November begin die uitspeelwedstryde van die Boland-superliga (T20), met al drie Stellenbosse premierlia-spanne – VDS, Stellenbosch en Coronation – wat deel van die kompetisie sal wees. Corries en Stellenbosch is in Groep A met Worcester en Hermanus, terwyl VDS in Groep B met Grabouw, Piketberg en Paarl-Oos sal speel.

Alle Groep A-wedstryde word dié naweek op die Idasvallei-sportterrein gespeel, met Corries en Stellenbosch wat mekaar om 10:00 die stryd aansê, en om 14:00 speel die Pniëllers teen Worcester en Stellenbosch teen Hermanus.

Die Groep B-wedstryde word op die Van der Stel-sportterrein gespeel, met VDS wat om 10:00 met Paarl-Oos kragte meet en weer om 14:00 met Grabouw.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article