Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).
Wyle Matthew Cheswin Baartman (8).

Die gemeenskap van Klapmuts is ontstoke gelaat nadat die plaaslike polisie verlede week bevestig het Matthew Baartman (8) is wel doodgeskok op Vrydag 23 Januarie.

Sers. Madilyn Dombas, ‘n woordvoerder van Klapmuts-polisie, het verlede Woensdag aan Eikestadnuus bevestig Matthew, wat in graad 3 was by Klapmuts Primêr, het doodgeskok.

Dit kom nadat Matthew daardie Vrydag na die plaaslike kliniek gehaas is en later daar dood verklaar is.

Aanvanklike gerugte was dat die seun geskok is by ‘n kragkabel terwyl hy besig was om water te drink. Dit is ook wat aanvanklik aan sy ma, Sonja Baartman, gesê is.

Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van 'n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas
Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van ‘n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het egter sedert die voorval gesê daar is geen kans dat die seun doodgeskok is nie. Gemeenskapslede was egter nooit tevrede met die departement se veduideliking nie.

Volgens Veronica Galant, ‘n gemeenskapsaktivis van Klapmuts wat sedert Matthew se dood die familie bystaan, is die gemeenskap verbaas oor die amptelike bevestiging van Matthew se oorsaak van dood, veral omdat die departement voet by stuk oor die teendeel gehou het.

LEES OOK: Vrae oor Klapmuts-seun (8) se dood

Kerry Mauchline, ‘n WKOD-woordvoerder, het vroeër vandeesmaand weer verduidelik ‘n assesseringspan van die departement, wat ‘n elektriese kontrakteur ingesluit het, het op die dag van Matthew se dood die skoolperseel besoek.

“Geen bewyse kon gevind word wat die bewering [dat Matthew geskok is] kon staaf nie en die skool het die volgende Maandag heropen,” het Mauchline gesê.

Eikestadnuus het weer na die departement uitgereik nadat die Klapmuts-polisie Matthew se oorsaak van dood bevestig het. Geen amptelike terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

Dombas het bygevoeg die polisie het nie planne om enigiemand te vervolg weens Matthew se dood nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article