Karina Erasmus en die Tygerberg-kinderkoor is deel van die program van die Kerskonserte van die Endler-konstertreeks in die Endler-saal.
Karina Erasmus en die Tygerberg-kinderkoor is deel van die program van die Kerskonserte van die Endler-konstertreeks in die Endler-saal.

Namate die einde van die jaar naderkom, nooi die Endler-konsertreeks by die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium gehore uit om saam die warmte, lig en verwondering van die feestyd met drie uitsonderlike Kerskonserte te vier – elk met sy eie unieke karakter en klankkleur.

Van orkesglans en grootskaalse koormusiek tot die suiwer stemme van een van Suid-Afrika se voorste jeugkore, beloof die 2025- Endler-Kersseisoen ‘n vreugdevolle afsluiting van ‘n jaar vol inspirerende musiek.

In November tot vroeg in Desember sal die Endler-saal gevul wees met musiek wat vrede, gemeenskap en hoop vier.

Die seisoen begin Saterdag 8 November wanneer die Stellenbosse Stadsorkes (SCO) die Christmas Festival 2025 vir die eerste keer in die Endler-saal aanbied. Die orkes onder leiding van Paul van Zuilenburg bied ‘n program wat die klassieke en die kontemporêre op pragtige wyse saamweef.

Die dirigent Johan de Villiers sal in November die koorproduksie, From Karl Jenkins to Christmas Joy, lei.
Die dirigent Johan de Villiers sal in November die koorproduksie, From Karl Jenkins to Christmas Joy, lei. Credit: Andre Engelbrecht

Gehore kan uitsien na die vreugdevolle glans van John Rutter se “The Lord Bless You and Keep You”, die liriese “Benedictus” van Karl Jenkins, asook Hans Zimmer se “Silent Night” en Alan Silvestri se “Spirit of the Season”. Bekende Kersliedere nooi ook die gehoor om saam te sing.

Die orkes word vergesel deur die bekende soliste Vasti Zeeman-Knoesen, Janelle Speelman, André Terblanché en Corneil Muller. Hul uitvoerings sal die aand met warmte vul.

MUSIEK VIR ALMAL

In die daaropvolgende naweek, op Saterdag 15 en Sondag 16 November, volg From Karl Jenkins to Christmas Joy – ‘n monumentale koorproduksie onder leiding van Johan de Villiers – met meer as 100 sangers bestaande uit oudlede van die Libertaskoor en talentvolle koorsangers uit die Wes-Kaap.

Dit open met Karl Jenkins se indrukwekkende “Sabat Mater”, ‘n werk wat die hartseer van Maria langs die kruis uitbeeld. Die bekroonde mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce tree as solis op, met die professionele orkes onder leiding van konsertmeester Petri Salonen.

Ná die pouse verander die stemming na feestelik met die première van Zorada Temmingh se “Christmas Joy”, ‘n nuwe verwerking vir koor, orrel en orkes en wat nege Kersliedere uit verskillende kulture en tale insluit.

Die 2025-Endler-Kersseisoen eindig op ‘n hoë noot met Christmas Time with the Tygerberg Children’s Choir, met twee uit- voerings op Saterdag 29 November (15:00) en Sondag 7 Desember (16:00). Dié bekende koor bring sy suiwerheid en sprankelende energie onder leiding van Karina Erasmus na die Endler-saal.

Die konsert, met ‘n program vol tradisionele en eietydse Kersliedere, beloof ‘n viering van hoop, vrede en gesinsame saamwees.

Saam maak hierdie drie konserte ‘n feestelike tapisserie van Kersmusiek, ‘n viering van kuns, gemeenskap en ‘n nuwe begin. Van die majestueuse klanke van orkes- en koormusiek tot die suiwerheid van kinderlike stemme sal gehoor kan word.

Kaartjies is beskikbaar deur Webtickets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article