Die 17de Sanlam-WOW-spelfees vind van Julie tot Oktober landwyd plaas en skole en leerders word genooi om vir dié gewilde kompetisie te registreer.
Dit is die grootste spelfees in die land en word nasionaal aangebied. Skole en leerders kan in drie afdelings deelneem – Afrikaans, gr. 1 tot gr. 10; Engels, gr. 4 tot gr. 9; en isiXhosa – gr. 5 tot gr. 8.
Die spelfees is ‘n vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ‘n bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch. WOW bied kreatiewe en opvoedkundige programme en aktiwiteite in skole aan vir die bevordering van taal, letterkunde en die kunste.
Fiona van Kerwel, WOW se bestuurder, sê dit is merkwaardig dat die spelfees al in sy 17de bestaansjaar is.
LEES OOK: Idasvalleier vang Afrikaanse meestersgraad
“Ons missie met die Spelfees is om leerders en opvoeders se perspektiewe deur middel van woorde te verruim. Ons wil leerders se taalvaardighede ontwikkel sodat hulle die nodige selfvertroue kan kry om doeltreffend te kommunikeer. Skerp taalvaardighede help hulle ook met ‘n beter begrip in ander skoolvakke. Dit is regtig wonderlik om te sien hoe die Spelfees jaar ná jaar groei.”
Leerders moet deur drie vlakke vorder om na die nasionale eindronde deur te dring – kringvlak, distriksvlak en provinsiale vlak. Die nasionale eind-ronde word op Saterdag 3 Oktober in Stellenbosch aangebied.
Deelname is gratis en registrasie sluit op Sondag 31 Mei. Spellyste en alle inligtingspakkette is Maandag 2 Maart aan alle geregistreerde skole gestuur.
• Besoek wow.woordfees.co.za vir registrasievorms en speltoetse.



