Sowat twee weke nadat ‘n hond weens beweerde onwettige kragverbindings in Lanquedoc doodgeskok is, moes die familie van Dilene Mert verlede Dinsdag (13 Januarie) op ‘n tragiese wyse van haar afskeid neem toe sy glo op dieselfde plek met lewendige kabels in aanraking gekom het.

Hoewel die Groot Drakenstein-polisie nog die omstandighede om haar dood ondersoek, het Mert se familie gesê die spesifieke gebied word deur plaaslike mense as ‘n deurweg gebruik, maar dit het gevaarlik geraak weens onwettige kragverbindings te midde van informele strukture wat hier opgerig is.

Volgens kapt. Francois Ross, die bevelvoerder van die Groot Drakenstein-polisiekantoor, is beamptes Dinsdagoggend omstreeks 10:00 na die toneel ontbied.

Ross het nie uitgebrei oor hoe sy dood is nie, maar sê Mert is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

“Die omstandighede word nog ondersoek. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Die 27-jarige vrou is geïdentifiseer en haar familie is ingelig,” sê Ross.

Mert se tante, Christalina Kana, by wie sy gewoon en grootgeword het, sê die familie sukkel steeds om sin van die gebeure te maak.

Wyle Dilene Mert (27).
Wyle Dilene Mert (27).

“Almal het verskillende weergawes; daar is so baie stories. Ons wil eintlik weer by die polisie uitkom, want ons weet self nog nie wat werklik gebeur het nie.

“Al wat ons weet, is dat daardie paadjie die laaste tyd weens die onwettige kabels uiters gevaarlik geraak het,” sê Kana.

Volgens Kana het Mert, wat in die gemeenskap as “Lienkie” bekendgestaan het, by hulle grootgeword.

“Sy was ‘n baie liefdevolle mens. Soos die meeste van ons het sy ook maar haar dinge gehad, maar sy het altyd rondom die huis gehelp. Hoewel sy nooit haar eie kinders gehad het nie, was sy baie lief vir kinders. Lanquedoc het haar as Lienkie geken. Haar dood tref ons almal en sy gaan gewis gemis word.”

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê: “Die munisipaliteit is bewus van die voorval en is diep bedroef dat so iets gebeur het.

“Onwettige kragverbindings bly ‘n groot uitdaging in sommige gebiede. Dit is uiters gevaarlik, diefstal van infrastruktuur en stel onskuldige inwoners se lewe en eiendom in ernstige gevaar.

“Die munisipaliteit se kragspanne, saam met wetstoepassing, besoek hierdie gebiede gereeld om inspeksies uit te voer, onwettige verbindings te verwyder en die skuldiges aan te keer. Die samewerking van die publiek is egter noodsaaklik. Ons doen ‘n beroep op inwoners om . . .  enige verdagte of onwettige aktiwiteite aan te meld.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article